Proestukkie: Elsa Winckler: Sonder bagasie

Lisa lê met haar kop op haar hande. Salig. Veraf is daar stemme,’n gelag, seevoëls wat kras, branders wat breek. Hier, onder haar sambreel met haar oë toe, is sy afgesluit in haar eie, veilige wêreld. Niemand wil iets van haar hê nie, sy hoef nêrens heen te jaag nie, sy kan net heerlik, rustig … Sy hoor iets en lig haar bolyf op. ’n Bal trek deur die lug, op pad na haar toe. Verergd maak sy haar mond oop en sluk ’n handvol sand toe die bal die sand naby haar tref. Sy stik en hoes, probeer regop sit en gryp terselfdertyd na die agterste bandjies van haar bikini-top wat los is terwyl haar ander hand probeer om van die sand in haar mond ontslae te raak.
“Jammer Pop, het nie bedoel nie …” Lisa kyk vies op terwyl haar een hand wanhopig probeer om die bandjies agter haar rug bymekaar te kry. Al wat sy voor haar sien, is n groot, bruingebrande, gespierde bolyf en n swembroek wat baie laag … Sy ruk haar kop vinnig op en kyk op en op. Sy kan nie die vent se gesig uitmaak nie, die son is in haar oë, sy is net bewus van sy baie groot lyf. Sy hoor hoe hy sy asem intrek.
“Jou … e … bostuk.” Sy kyk af op dieselfde oomblik wat hy sy hand uitsteek om haar te probeer help. Sy klap sy hand vinnig weg. In die proses los sy die bandjies aan die agterkant van haar lyf en die bikini-top hang los voor haar. Sy buk vinnig af, gryp haar t-hemp en hou dit voor haar. Sy draai haar rug op hom.
“Kyk wat doen jy,” kners sy tussen haar tande deur en voel sommer trane in haar oë. “Gaan net weg,” raas sy en gaan sit sodat sy haar t-hemp kan aantrek. Die dag is nou in elk geval bederf, sy kan net sowel oppak en huis toe gaan. Simpel mansmens.
Sy sien ’n beweging uit die hoek van haar oog. Die volgende oomblik voel sy hoe die man langs haar op die handdoek afsak. Sy kyk geïrriteerd op. Hy staan op sy knieë reg langs haar. Sy wil hom iets toesnou, maar die woorde steek in haar keel vas. Die blouste blou oë vonkel af na haar toe. Sy blonde hare krul laag teen sy nek. Haar oë sak af en beland op sy groot, gespierde, sterk bolyf … Sjoe. Sy sluk. Wat doen sy? Sal sy haar nou sit en vergaap aan’n man net omdat hy die mooiste, blouste oë het? Sy ruk haar kop weg.
“Kyk wat het jy gedoen,” raas sy weer en probeer om hom met haar een hand van die handdoek af te druk. Toe sy aan hom raak, trek ’n elektriese stroom dwarsdeur haar liggaam tot af in haar tone. Haar hand vries op sy boarm, haar breinselle raak heeltemal deurmekaar en al wat sy kan doen, is om na hom te staar.

3 thoughts on “Proestukkie: Elsa Winckler: Sonder bagasie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s