Proestukkie: Chanette Paul: Dryfhout


Hier is ‘n heerlike lang lusmakertjie vir Chanette se nuwe boek.
_______________________
Dryfhout
Chanette Paul

Proloog
1 Desember –vroegoggend

Gety bedinges. Dis wat algar hier op Kierangbaai is. Was dit nou regtig nodig dat Ma Nella haar vanoggend al voor vyf al uit die kooi gejaag het? Kon sy nie maar hierdie een keer oorgeslaan het nie?

Die water is nou wel lekker laag, soos altyd met volmaan. En dis net met spring-laag dat mens na Rykmansklip toe kan stap, hier waar die vetste oeste lê. Selfs vetter as die mossels by Springklip en hier is natuurlik arikruik ook, weggesteek agter die rand van die rotse en tussen die seebamboes.Maar sy wou nog geslaap het. Nog ʼn bietjie vergeet het van alles wat onlangs gebeur het. Veral wat gisteraand gebeur het.

Miempie druk haar hand teen haar laerug en skep ʼn oomblik asem. Nou, met die water so laag, kan mens duidelik sien Rykmansklip is eintlik glad nie ʼn klip wat sommer net op sy eie staan nie.Disdie eindpunt van ʼn spul rotse wat ʼn ent die see in lê en deel uitmaak van ʼn skiereilandjie wat gewoonlik onder water is. Gʼn wonder dis hier waar Strandloper meesal duik om perlemoen en arikruik uit te haal nie. Maar vandag lê hulle in vlak water, net reg vir die vat.

Sy buk weer en gaffel ʼn vet arikruik met haar mes los. Perlemoen is natuurlik taboe vandat meneer Roark hier gekoop het en Ma Nella het haar eintlik gestuur om mossels te pluk, maar sy gaan baie bly wees oor die arikruik. Net vyf per dag, het meneer Roark gesê, maar dit maak al ʼn skaflike proeseltjie saam met rys.

Miempie moet weer regop kom toe sy dink aan die uitkook van die arikruik. Aan daardie reuk wat uit die stoom opslaan. Haar maag draai. Die soetpap wat Ma Nella haar flussies ingejaag het, sit hoeka al weer soos ʼn klont in haar gedermtes, net reg om by haar keel uit te spring.

Sy vryf oor haar maag, maar nie om die klont te probeer weg vryf nie. Sy verbeel haar sy vryf oor ʼn koppie.

Die kommer wat veral van gister af al hoe meer aan haar vreet, oorval haar weer in volle sterkte. Nooit het sy gedink hy sal vir haar sê om daarvan ontslae te raak nie. Trou, ja. Sy het gedink hy sal sê hulle moet trou. Nie sê Strandloper sal haar kan help met die regte kruie en konkoksies nie.

Miempie ril as sy aan Strandloper dink. Aan sy lang knokkelvingers. Die vuil naels. Ma Nella sê hy is onskadelik, maar sy weet darem nie. Almal het gedink Baksjisj was ook onskadelik en kyk wat het hy destyds daar op Paradyskloof aangevang. En Strandloper het party van sy dinge hoeka met Baksjisj saam geleer.

Hier op Kierangbaai het hulle as kinders nie ʼn Antjie Somers nodig gehad nie. Strandloper was genoeg om hulle te laat luister of spaander na gelang die bevel van die grootmens wat kom raas. En nou wil die pa van haar kind hê. . .

Miempie vat weer die hef van die mes stewig vas en druk dit onder die vet arikruik se pens in toe die opstootwater terugtrek. Haar sesde een. Meneer Roark sal baklei as hy dit agterkom, maar hier sit hulle dan oop en bloot vir die uithaal asof die Liewenheer vandag spesiaal die waters laag gemaak het vir die oes. En meneer Roark kan maklik praat. Daar sit hy in sy kliphuis. Nooit ʼn dag se honger geken nie. Wat weet hy van suikerwater soggens vir ontbyt, soms vir middagete ook?

Dit gaan weliswaar beter as ooit met hulle vandat hy Kierangbaai kom koop het, maar al gaan die honger weg, gaan die bang-wees vir honger nêrens heen nie. Dit bly sit in ʼn mens se gebeentes, bly knaag, selfs al is die maag vol.

Sy beweeg agter ʼn strook rotse in waar sy weet meneer Roark haar nie van sy balkon af sal kan sien nie, werk die mes onder nog ʼn skulp in en laat loop haar gedagtes weer in ʼn ander koers. Na die man wat op ʼn ander volmaannag vir haar geleer het wat sy miskien nog nie heeltemal reg was om te leer nie. Seedrolle noem hy arikruik, onthou sy weer. Versteende seedrolle. Sy moet lag. Die arikruikskulpe het nog nooit weer vir haar anders gelyk nie. Dit was laas winter. Nog voor daardie ander volmaannag en die nagte wat daarop gevolg het.

Hy sal van plan verander. Hulle sal trou en hulle kind saam grootmaak. Sy moet dit net aanhou glo. Net aanhou bid. Ma Nella sê mos bid en glo maak mens se wêreld anders. Kyk maar wat het met hulle gebeur vandat meneer Roark hier gekom het. Glads hulle huis opgeknap. En hoe! Spoeltoilet pleks van die kleinhuisie, krane binne en sowaar elektrisiteit ook. Ma Nella sê sy sweer hy gaan vir hulle die jaar ʼn TV vir Krismis gee. Laas jaar was dit ʼn twin-tub. Sy dink nie sy het Ma Nella ooit sien huil nie, maar daardie Krismisboks het dit reggekry.

Eers wou Ma Nella niks weet van die welsynerigheid nie, maar toe sê meneer Roark sy kan vir hom in die huis kom werk in ruil. Ma Nella was nog steeds nie lekker daaroor nie. Kon nie ophou glo dis pure omkopery nie. Veral omdat dit toe nie ruil was nie, want hy betaal haar vir die werk ook. Maar deesdae is dit net meneer Roark voor en meneer Roark agter. Veral nadat hy ʼn ou yskassie ook aan hulle bewillig het. Bietjie geroes, maar dit werk.

In Ma Nella se oë kan hy net mooi niks verkeerd doen nie. En dit nadat sy hom so die stryd aangesê het toe hy hier kom koop het. Gesê het sy trek gʼn weg van die plek waar sy en haar voormense gebly het van net ná die Skepping af nie. Vir hom in sy gesig gesê het hy kan op sy kop staan met ʼn volstruispluim in sy hol, maar sy versit nie ʼn voet nie.

Miempie verskuif die band wat tussen haar borste deur sny en kyk in die oranje oessak wat op haar heup hang. Tien arikruik. As meneer Roark haar voorkeer en tel, sal sy maar net sê dis vyf vir haar en vyf vir Ma Nella. Sy moet sluk toe die ryp seereuk uit die slakke opslaan.

Miskien moet sy maar haar vyf vir antie Delphine gaan gee. Faantjie het hoeka eergister van die Kaap af huis toe gekom. Maar sy gaan nie meer graag soontoe nie. Deesdae kan antie Delphine mos so iets allerverskrikliks spog met haar maergat seun. Was al erg genoeg toe Faantjie Fortuin konstabel geword het en later boonop speurder, maar noudat hy gaan studeer het, is dit kastig Faan en nie meer Faantjie nie. Sowat van opstêrs.

Maar eintlik weet Miempie sy is net jaloers omdat antie Delphine vier jaar terug al die jackpot geslaan het toe sy die werk en die woonstel op Kruisbaai gekry het en uiteindelik uit Kieranghut weggetrek het om nooit weer terug te kom nie. Uit haar eie. Meneer Roark het nie eens nodig gehad om hulle te vergoed nie, maar hy het. Betaal al Faantjie se universiteitsgelde en dis glo ʼn hoop geld.

Miempie weet sy het geen rede om lelike dinge te dink van antie Delphine nie. Sy is dalk ʼn bietjie kwaai en sy snoef nou wel met Faantjie, maar sy het ʼn hart van goud. As dit nie vir antie Delphine was toe dinge so sleg gegaan het met Ma Nella nie, sou sy wat Miempie is sweerlik verhonger het.

Miempie sug. Nee, antie Delphine is die laaste mens vir wie sy kwaad behoort te voel. Maar partykeer voel dit vir haar al asof die baba haar kwaad vir die lewe en vir mense maak. Kwater as voorheen maak, omdat party mense dit so maklik het en ander nie. Dis asof sy pa se bloed wat deur die piepklein aartjies loop, partymaals aan die baklei raak met hare. Sy pa is hoeka…

Sy gee ʼn gil en die mes spat uit haar hand toe iets oor haar vlieg en dan swaar en nat oor haar kop en bolyf afsak. Skrik amper die baba uit haar lyf uit, totsy sien dis net ʼn stuk visnet. Terwyl sy stoei om dit van haar gesig af te kry, probeer sy omkyk om te sien wie so verspot is, maar die see spoel in om haar enkels en sy verloor haar balans. Met haar hande verstrik, kan sy haar val nie behoorlik keer nie. ʼn Pyn skiet in haar knie op toe dié teen ʼn skerp rotspunt kap en dan toe tref haar bolyf ook die rotse. Sy probeer haar nek draai, maar binne oomblikke is die net te styf om haar vasgetrek. Haar hande worstel op borshoogte, maar daar is net meer druk.

Sy voel hoe haar gesig in diamantjies opgedeel word en deur die net begin peul. En dan is daar ʼn vinnige beweging. Sy sien ʼn hand wat verbyflits toe ʼn punt van die net om haar nek gedraai en nog stywer getrek word. Sy word aan die hare gegryp, plat gedruk. Voor haar sien sy klipvissies in die vlak rotspoeletjie rondswem en dan is haar gesig in die water. Dis so vlak, sy voel skulpies in haar voorkop sny.

Die drukking om haar nek, die gebrek aan asem, die skrik, alles laat dit voel asof tyd stadig geword het. Soos in die flieks. Haar gedagtes is soos seepbelle en ver verwyderd van haar spartelende lyf. Belletjie een: Sy ken daardie hand. Belletjie twee: Al was daar dié keer nie note in nie. Belletjie drie: Dis verby… My baba…

One thought on “Proestukkie: Chanette Paul: Dryfhout

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s