Onderhoud met ‘n leser: Elma Roos

1.’n Kort biografie.

Ek het groot geword in ‘n klein dorpie, my ouers was ook opvoeders. As enigste kind het ek gou geleer dat boeke mens se beste vriende is. Die karakters in die boeke was my beste vriende en ek kon alles met hulle deel. Hulle was ook my ‘geselsvriende’, selfs in my eie onderwysloopbaan later.

2. Hoekom lees jy graag Romanza?

Dit is baie maklik om deel van die karakters in die Romanzas se lewens te word want ek kan maklik identifiseer met hulle. Die storielyne is, hoewel nie ongekompliseerd nie (daar is mos komplikasies in die lewe ook), heerlik verfrissend, interessant en baie leersaam – ek leer iets uit elke boek.

3. Wat beteken die lees van romanses vir jou persoonlik?

Die lees van romanses bied vir my ‘n wêreld van ‘ontsnapping’ na die leefwêreld van die karakters. Ek word werklik ‘vriende’ met hulle en terwyl ek saam met hulle ‘n pad stap, kry ek dikwels ook antwoorde waarna ekself in soortgelyke situasies na soek.

4. Lees jy dit soms agter toe deure, of gee jy voor jou vriende voor dat jy dit nie lees nie?

Nee, ek gee nie om wie my sien as ek ‘n Romanza lees nie. Ek lees dit graag in mediese ontvangskamers waar ek al op negatiewe aanmerkings daaroor reageer het met: ” ‘n Romanza-boek gee my rede om aan die liefde te glo en dat liefde die lewe kan omarm in elke moeilike lewenssituasie!”

5. Sou jy Romanzas as ‘hygromans’ bestempel?

Ek glo dat die verhoudingslewe soos dit huidiglik daar uitsien, realisties uitgebeeld moet word. Romanza is dus, volgens my, nie ‘n hygroman nie, wel ‘n liefdesroman waar die slaapkamerdeur net op ‘n skrefie oopgelaat word. Die leser se eie verbeelding laat hom / haar dan self lei na wat verder gebeur. Dit is daardie nuuskierigheid van die leser wat hom / haar prikkel om te weet wat verder tussen die held en heldin gaan gebeur.

6. Dink jy die Afrikaanse romanses is minderwaardig?

Die gevatte taalgebruik van die Afrikaanse skrywers, soos bv. “Die wildeweghol kry beheer oor haar” (bv Alda Geers), is een van die redes waarom Afrikaanse romanses nooit minderwaardig teenoor die Engelse ‘ romances’ hoef te wees nie. Dit maak mens trots om Afrikaans te lees! Die heldin in die Romanza-boek is ook nie iemand wat net oorrompel word nie, maar sy het ‘n sterk persoonlikheid en is gelukkig in haar daaglikse beroepslewe. Sy is geensins ‘n minderwaardige karakter nie en Suid-Afrikaanse vroue kan baie by hierdie karakters leer!

7. Kom daar iets kort in ons boeke of is daar iets waaraan Romanzaskrywers meer aandag moet gee?

Somtyds wil ‘n leser meer spanning in ‘n verhaal beleef, veral tussen ‘n held en ‘n heldin. Die spanning kan die leser meer onsekerhede gee sodat hy /sy wonder of die held en heldin mekaar werklik sal bereik. So bietjie meer ‘suspense’ sal net meehelp dat daar weer oor die boek en die uiteindelike interessante slot, gedink sal word, veral nadat die boek gelees is. Ek sal bietjie ‘suspense’, soos in die werklike lewe, baie geniet!

8. Dink jy ons stories is onrealisties, of grens aan feëverhale?

Romanzas vertel die verhale van of jou buurvrou, of jou buurman, of die persoon wat in die straat by jou verbyloop. Die dinge wat elke dag in menselewens plaasvind en wat ongesiens verbygaan maar tog iewers ‘n invloed het en menselewens dikwels verander, word die verhaal van die karakters in die Romanza. Dis geen feëverhaal nie, dis werklikheid.

9.Wat maak dat jy ‘n boek nie kan neersit nie en sommer deurnag lees?

Hoe meer struikelblokke daar in die pad van die held en heldin op hulle pad is om mekaar te vind, hoe angstiger raak ek om uit vind of hulle hulle oor al die bulte kan kom. Ek weet hulle moet, maar dis daardie “ek weet nie hoe nie”, wat my al amper laat deurnag het.

10. Wat wil jy nog aan die lesers sê?

Romanzas, en die verhale van die karakters bring mens in voeling met die werklikheid. Wanneer mens besef dat daar nog mense (al is dit karakters in romanses) is wat dieselfde tipe liefdesprobleme as jyself ervaar, begin jy jouself ook beter verstaan. Die leser van ‘n Romanza vind baie keer ‘n oplossing vir ‘n probleem wat ervaar word binne die bladsye van hierdie boeke. Soveel karakters, soveel stories… soveel oplossings ook! Wat ‘n manier om die liefdeswenpaal oor te steek…binne die bereik, van elke Afrikaanse vrou!

11. Is daar iets wat jy aan die Romanzaskrywers wil sê?

Julle bring nie net karakters op papier, of die bladsye van boeke na mense toe nie…nee, julle bring vriende tot binne die huise van mense. So soveel keer verlig hierdie karakters nie net eensaamheid nie, maar word hierdie karakters ook rolmodelle wat nagevolg kan word, in soortgelyke situasies! Baie dankie; hou so aan!

6 thoughts on “Onderhoud met ‘n leser: Elma Roos

  1. Chanette Paul says:

    Hallo, Elma, lekker om jou hier ook raak te loop! Jy is ‘n leser na elke skrywer se hart. Dis vir jou wat ons skryf al weet ons dit dalk nie terwyl ons dit doen nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s