Skrywerskuier op die River Rat

Hierdie heerlikheid het sowaar al twee maande gelede plaasgevind, maar die aangename herinneringe bly steeds talm in ons koppe. Dit was weer eens ‘n geleentheid waar romanseskrywers wat mekaar op die internet leer ken het, mekaar in lewende lywe kon ontmoet, mekaar kon waardeer en mekaar kon geniet. En natuurlik lief en leed oor elkeen se skrywerspaadjie uitruil. Waar ons voorheen elkeen grootliks op ons eie ons stories gemaak het, is daar nou volop geleentheid vir kruisbestuiwing en inspirasie oor en weer. Dankie aan Chanette Paul vir die idee, die organisasie en moeite met die lekker spys en drank. En groot dankie aan Ernie Blommaert vir sy boot en sy kennis van die rivier. Ek volstaan met ‘n sin of twee van elke meevaarder, hoewel hulle beslis nie net ‘n sin of twee te sê gehad het oor die lekker ervaring nie:
Chanette Paul: Kristel was ‘n regte trojaan. Doodsveragtend klim sy op die boot, alhoewel nie sonder protes op protes nie! En sit en staan en loop selfs sonder reddingsbaadjie op die boot rond. En ek dink nie ek sal ooit die uitdrukking op Alta se gesig vergeet terwyl dié Karookind agter die boot aangesleep word nie. Gepraat van sielsalige vrede en vreugde! En dan was daardie sagte murmeling van onse Weskuskind met haar verskriklike mooi Afrikaans en aksent. Ek kan my aan Thea verluister!
Elsa Winckler: Van die wegtrek tot die terugkeer was dit net ’n absolute saligheid – glas wyn in die een hand, hotdog in die ander, wat wil jy nou nog hê? Baie naby aan die hemel.
Thea Holland: In Evergrine het ek by Elsa en haar man verbygeloop sonder dat ek hulle herken; ek het eers besef wie dit is toe Elsa glimlag. Dis `n glimlag wat wys hoeveel sy van die lewe hou. As sy swem, glimlag sy hardop. Dan klink sy soos iemand wat romanses skryf. Ek meen, ek is doodseker dit sou anders geklink het as sy uitsluitlik speurverhale of moordstories geskryf het. Vat nou maar vir Chanette. Sy skryf deesdae spanningsverhale, en sy glip in die water in soos `n meermin, sonder enige geluid hoegenaamd.
Kristel Loots: Ek wou nét genoeg Prozak sluk vir my om vir drie ure lank op die boot in ’n trance te wees. Sodat ek nie sou weet wat om my aangaan nie, nie sou weet van die gevare wat my omring nie, die onheil wat tussen die riete skuil nie, die gulsige waterwesens wat die rivier bewoon nie. Nie ’n krieseltjie Prozak minder nie, want dan sou ek uitfreak terwyl ons nog op die water is, heen en weer aan die hol gaan, met wilde hare en oë, dalk nog sonder klere, mense en voorrade oorboord begin gooi en heel moontlik die boot met ’n dramatiese kraakgeluid en omringende bloedstollende gille laat sink. Maar na drie ure wou ek weer wakker wees sodat ek, soos gewoonlik, kon back seat drive terug Kaap toe. Hoe anders sou ons by die huis kom? Dis net . . . Prozak maak ’n mens nie blind nie, ook nie dom nie. Jy sien nog die water enne . . . hoe diep dit is. Diep en donker en jy weet daar is ’n krokodil of dalk nog die Lochness monster se Suid-Afrikaanse nefie wat sy lippe aflek vir ’n sappige happie. En dat die gerug onder die waterbewoners versprei is. ‘Daardie een met die hoed, die een met die bewende onderlip soos ’n heldin in ’n liefdesverhaal . . . Wel . . . sy smaak so lekker, want sy eet so lekker.” Maar ’n mens mag mos nie in jou spore omdraai nie. Nee, dan is jy chicken en ’n spoil sport en dan weet jy sommer – geen manuskrip van jou sal ooit weer verder as Stanford kom nie. Nee, jou harde werk sal in die modder vertrap word of nét daar sink, in daardie rivier verdwyn om nooit weer van gehoor te word nie. Daarom moet jy opoffer. Ter wille van Die Kuns. Jou senuwees. Jou sanity. Ek sak op ’n stoel neer toe ek met ’n sug van verligting aan boord kom. Hier sit ek nou, neem ek my voor. Met my oë toe tot ons weer voet aan wal sit. Dan moet iémand maar sukkel om my van die boot af te kry. Ek het nie gevra om hier te wees nie! Maar ek is te nuuskierig om met my oë toe te sit. . . Want almal lag en ek hoor glasies klink …
Marilé Cloete: Verskeie praktiese vaardighede is ook aangeleer: Na Elsa se demonstrasie sal geen gilletjie deur enige heldin ooit weer dieselfde wees nie. Die ingrypendste leerkurwe het egter in die boot se baie spesiale toilet gewag. Eerstens het die toilet nie net ‘n uitsig nie, maar vermoedelik ook ‘n INsig (as die kyker reg geposisioneer en vasberade genoeg is). Tweedens is Chanette se vaardige, vroulike hand duidelik sigbaar. Derdens: Enter at own risk. Verskeie kongresgangers het verborge gimnastiese vermoëns ontdek, veral waar nat baaiklere betrokke is …

Lesers kan gerus maar dophou wanneer die eerste Romanza met ‘n paartjie op ‘n rivierboot verskyn …🙂

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s