Proestukkie: Griekse vuur

“Ek weet nie veel van jou af nie, Athena.”

Moenie wys hoe kwesbaar jy skielik voel nie, maan sy haarself. Sy haal diep asem en kry dit reg om ’n bietjie sarkasme iewers uit te krap. “Wat wil jy weet wat jou speurder nog nie uitgevind het nie?”

“Daar is baie. Soos hoekom jy nie getroud is nie, byvoorbeeld?” Met dié enkele sin het hy die wind uit haar seile. Sy verstik amper aan haar port en hou die glas vinnig weg voor sy op haar klere mors. “Die  rede is nie belangrik nie.”

Dit is so goed as om te herken  daar is wel ’n rede, besef sy te laat.

“H’m. Ek dink weer dit is, maar … kom ons los dit vir eers daar. Wanneer laas het jy ’n kêrel gehad?”

Die situasie ruk handuit. Sy kan om haar lewe te red nie dink hoekom hy so iets wil weet nie.  Sy veg ‘n bietjie van haar waardigheid terug. “Dit het absoluut niks met jou uit te waai nie.” Sy oë is versluier, sy gesig onpeilbaar. “Ek dink tog dit het,” dring hy aan, asof hy die gesprek doelbewus soos ‘n inkwisisie wil laat klink. “Wanneer laas was daar ’n man in jou lewe?”

“Wie sê ek het nie nou een nie?” hap sy terug.

Hy glimlag beterweterig. “As jy een gehad het, een wat werklik saak maak, sou jy hemel en aarde verskuif het om hom te laat weet waar jy is.”

Natuurlik is hy reg en hy weet dit. Met opgetrekte wenkbroue wag hy op ’n antwoord.

“As jy dan moet weet. Ek het twee jaar gelede my verhouding met ’n professor in filosofie verbreek. Sedertdien het ek nie tyd vir ’n verhouding gehad nie. Beantwoord dit jou vraag?”

“Ja, maar nie my nuuskierigheid nie.”

“Nuuskierigheid?” Sy vertrou glad nie daardie glinstering in sy oë nie.

“Ja, Athena, kan jy darem nog onthou hoe om  te soen?”

Sy trek haar asem hoorbaar in en soek naarstiglik in haar woordeskat, maar vind nie iets wat hom in twee kan sny nie. “Ek … dis nie … natuurlik weet ek nog hoe om te soen. Twee jaar is nie so lank dat ’n mens kan vergeet nie.”

Om die een of ander rede wil sy nie hê hy moet aan haar dink as ’n bloukousoujongnooi nie. Dit verstaan sy natuurlik nog minder, want hoeveel keer het sy nie vir Ronel probeer oortuig dat haar ouderdom en haar gebrek aan ’n liefdeslewe haar geensins pla nie. Nou maak dit skielik saak wat Ares dink.

“Ek … is ’n … baie goeie soener,” hakkel sy tot haar spyt. Bestaan daar ooit so ’n woord in Afrikaans, wonder sy in ’n laaste poging om helder te dink. Sy buig vooroor en sit haar glasie hard op die koffietafeltjie neer. “Verskoon my, ek hoef nie hierdie gespek met jou te voer nie.”

Sy kry egter nie kans om regop te kom nie, want die volgende oomblik druk haar handpalms teen Ares se bors. Haar oë vlieg verskik op na sy gesig en sy oë is twee donker onleesbare poele.

“Dan sal jy seker nie omgee as ek jou graad van ervaring op die proef stel nie, Athena. ’n Vrou wat twee jaar laas gesoen is,  skep ’n uiters aanloklike prentjie vir enige man.”

Hy terg, hy wil net haar siel uittrek, weet sy. Sy wil nog sê hy moenie, maar sy lippe is reeds op hare. Sy probeer haar oë oophou, maar dit gaan werktuiglik toe voor die passie wat onverwags in syne vlamvat. ’n Kreun ontsnap haar, want al waarvan sy bewus is, is die heerlike warmte van sy lyf, die krag van sy arms en sy manlike geur wat soos narkose haar sinne wil bedwelm.

Dis teen haar sin, sy wil hom nie soen nie, flits dit deur haar verskrikte gedagtes, maar  haar lippe gaan werktuiglik onder syne oop en verwelkom die intimiteit. Haar hande kruip willoos oor sy bors en knoop agter sy nek. Die drang om stywer teen hom aan te kruip, word elke oomblik sterker. Om nie eens te praat van die vuurtjie wat in haar vlamvat en tot in haar bene versprei nie. Sensasies waarvan sy lankal vergeet het, begeertes wat sy gedink het haar lankal verlaat het, word in ’n oogwenk uit haar geheue se geheime laaitjie gepluk. Alles wat sy voorheen as vrou ervaar het, is terug, net sterker en intenser as ooit.

Ares lig sy kop ’n oomblik. Wag hy dat sy haar gaan teësit? wonder sy vlietend.  Sy oë hou hare gevange, maar sy verstaan nie die boodskap nie. Dan gaan sy oë weer toe en soen hy haar dat die vertrek ’n tornado word wat alles om haar in die rondte laat tol.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s