Proestukkie: Kristel Loots: Lemoenseisoen

Hier is dit!! ‘n Lekker lusmakertjie vir Kristel se nuwe boek wat in Mei op die rakke gaan wees. Ons kan nie wag nie!!

Frederick sit gebukkend voor die lessenaar toe Suzy met die skinkbord in die hand by die studeerkamer ingestap kom. “Hallo engel,” groet sy, “is jy lankal wakker?” Dis ’n simpel vraag, sy weet. Hier sit die mansmens in lewende lywe voor haar sy Sondagoggenddinge en doen, so wakker en waaksaam soos ’n goeie soldaat aan diens. Maar nou ja, ’n mens moet iewers begin en sy kan aan niks beters dink om te sê nie.

Hy kyk nie op nie. “Soos gewoonlik op Sondae, ja.”

“Ek het vir jou ’n lekker koppie koffie gebring.” Sy hou haar stem so lig en vrolik as moontlik. Soos ’n stem vroeg op ’n Sondagoggend veronderstel is om te klink.

“Ek hét al koffie gehad, dankie.”

“Daar’s beskuit ook,” probeer sy weer. “En ek het vir jou ’n ekstra bietjie suiker ingegooi.” Sy begin vir haarself taamlik pateties klink, maar wil nie so gou moed opgee nie. Die dag lê lank voor hulle uitgestrek voordat hulle weer met ’n sug van verligting en ’n boek in die hand na hul eie kamers toe kan ontsnap. ’n Lekkerlees liefdesverhaal vir haar en ’n dik boek vol kennis vir Frederick. Asof daar nie al genoeg goed in sy kop geprop is nie.

“Jy weet te veel soetigheid is nie goed vir my nie.”

“Te veel surigheid ook nie,” merk sy sag op, maar hy hoor haar blykbaar nie, want hy reageer nie daarop nie.

Suzy sit die skinkbord op die hoek van die lessenaar neer en skink vir haarself koffie in, skielik teësinnig om dit alleen in die kombuis te gaan drink. Sy kyk na haar mooi man in sy kraakskoon spierwitte T-hemp. Hy’t nog sy pajamabroek aan, sien sy. ’n Broek van sagte materiaal wat met ’n toutjie bo vasgemaak word. Nogal vreemd. Frederick kom nie sommer uit sy slaapkamer voordat hy nie ten volle geklee is nie en hy verwag dieselfde van haar. “’n Mens weet nooit wanneer iemand aan die voordeur klop nie,” waarsku hy gereeld. “Ons moet te alle tye reg wees om ons besoekers te ontvang, veral as hulle om hulp kom aanklop.”

“Born to be of service,” brom sy soms onderlangs wanneer die lammes en die kreupeles by hulle kom aanklop. Sý is nie so gretig en gewillig om vier en twintig uur ’n dag diensbaar te wees nie. Dis hoekom sy nou hier in haar kaalvoete en haar sexy Woollies-nagrok en dwalende gedagtes in haar man se studeerkamer met die baie boeke en die platskerm-rekenaar staan.

4 thoughts on “Proestukkie: Kristel Loots: Lemoenseisoen

  1. Magdaleen Walters says:

    Klink sommer lekker, Kristel. Ek hou van die titel ook. Ek raai sommerso vir eie gebruik dat hy ‘n predikant is? Nie van hierdie ou aarde nie. Maar sy is. Van hierdie ou aarde, bedoel ek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s