Proestukkie: Katinka se grotman

Dis eenuur toe Frans haar weer styf teen hom vastrek. “Ek dink dis tyd dat ek jou in die bed gaan sit, of hoe?” fluister-praat hy teen haar wang, net-net hard genoeg om deur die omstanders gehoor te word. Die aanraking van sy lippe laat ’n gloed deur haar vlam wat haar vingerpunte laat tintel, toe onder haar ribbes gaan vassteek en daar uitkring tot haar hele lyf daarvan brand.
Eers toe Tanya proeslag sien sy Zia se gesig, en besef sy hoe dubbelsinnig Frans daardie woorde laat klink het. Katinka voel heelpad tot by die deur hoe belangstellende oë hulle volg. Sy wonder hoeveel van daardie kykers het Frans se woorde gehoor en glo dis presies wat hy gaan doen. Frans Liebenberg het beslis vanaand bewys hy is nie meer die jongste outjie in die klas nie. Min vrouens sou vanaand weier as hy hulle regtig in die bed wou sit en Katinka wonder ontredderd of sy vir hom nee sal kan sê …
Sy snak na asem toe Frans sy handpalm teen haar wang sit en haar gesig na hom draai. Frans het reeds in die parkeerruimte van haar woonstelblok stilgehou, dring dit uiteindelik tot haar deur.
“Kom, jy is half aan die slaap.” Sy stem is hees. Sy wil hom reghelp. Hom verseker sy is heldernugterwakker en gaan vanaand nie ’n oog toemaak nie. Maar sy swyg. Of hy in die hyser op pad boontoe gepraat het en wat hy gesê het, weet sy nie. Sy voel net haar hartklop in haar handpalm wat in syne toegevou is, hoor net die dreuning van die bloed deur haar are.
Hy vat haar voordeursleutel uit haar bewende vingers, sluit oop en druk die deur binnetoe.
“Katinka …” Hy ís hees. En klink onseker.
Sy loop in, trek hom aan die hand agterna. Kom nie verder as twee tree die vertrek in nie. Hy swaai haar na hom toe, trek haar byna ru tot teen hom. Toe brand sy mond op hare en die passie wat al heelaand opbou en op pad hierheen in haar breekpunt wou bereik, ontplof om hulle. Daar is meer hartstog as teerheid, meer hongerige verorbering as versigtige proe. Dit voel of hy haar gaan verslind, en sy hom. Want sy kan nie genoeg kry nie. Kan nie naby genoeg aan hom kom nie. Sy raak bewus van die koue muur teen haar rug, besef haar ander skouer is ook nou kaal, voel sy handpalms op haar bo-arms, sleutelbene, teen haar nek, in haar hare. Sy lippe volg dieselfde pad, skroei oor vel wat vinnig besig is om vuurwarm te word. Net voor haar knieë onder haar meegee, span sy arms om haar, lig hy haar van die grond af, hou haar met sy lyf tussen hom en die muur regop. Sy klou krampagtig aan sy skouers vas, gooi haar arms om sy nek en trek sy kop nader tot sy lippe die kloppende pols by haar kuiltjie kry. Haar kop wil in uitnodiging agteroor knak maar stuit teen die muur. Sy steun gefrustreerd.
Hy tree agtertoe, vat haar saam, swaai na die houtrak tussen die kombuis en woonvertrek, sit haar daarop neer. Sy wange skuur grof in haar handpalms, toe vleg haar vingers deur sy hare, die tekstuur daarvan sensueel op haar vel. Sy gaan disintegreer, gaan heeltemal oplos in die ekstase, gaan uitmekaarskeur om plek te maak vir die passie wat onkeerbaar in haar aanhou opborrel. Haar vingers pluk-pluk aan sy hemp, kry uiteindelik toegang tot warm, kaal vel. Vee met oorsensitiewe palms oor spiere wat ruk en tril, verken hoër op …
“Katinka …” Sy hoor dieselfde rou emosie wat haar optrede beheer, in sy stem hier teen haar regterslaap. Dit bring nie nugterheid nie, gee haar nie helderheid nie. Benewel net haar sinne meer. Sy haak haar bene om sy heupe, trek hom nog nader. Maar iets is anders. Hý is anders. Bewegingsloos. Verder. Teen haar, maar onbereikbaar.
Die werklikheid, die besef van wat sy besig was om te doen, breek soos ’n brander oor haar. Die wye wêreld wil haar nie insluk nie, is ook nie groot genoeg om haar weg te steek nie. Hy hou haar styf teen hom vas, druk haar gesig in sy skouer tot hulle albei se asemhaling rustiger is, tot haar hartklop tot bedaring kom.
Hy staan uiteindelik versigtig van haar af weg, trek haar rok terug oor haar skouer en hou haar regop sodat sy hom in die oë moet kyk. Buk vooroor tót sy hom in die oë kyk. “Verstaan jy?”
Sy knik. Sy het vergeet hoekom hy haar vanaand saamgeneem het, vergeet hoekom hulle die spel wat hierop uitgeloop het, begin het. Hy sug. “Nee, ek dink nie jy begryp heeltemal nie. Maar dis laat en jy is moeg. Miskien sal dit beter wees as ek môre in die helder daglig verduidelik.”
Môre in die helder daglig sal sy hom nie in die gesig wil kyk nie, vermoed sy.

3 thoughts on “Proestukkie: Katinka se grotman

  1. Alma Carstens says:

    Ek wil ook weet wat sy moet verstaan en moet 3 maande wag vir my boeke om hier uit te kom. Bets, dalk moet jy vir my die volgende dag se verduideliking e-pos…?

    • Bets Smith says:

      Dit kan seker gedoen word, as jy ernstig is!? Maar al vertel ek jou wat hy aan haar verduidelik, gaan dit nog nie die res van die deurmekaarspul uitsorteer nie.

  2. Annetjie van Tonder says:

    Nou het jy my so nuuskierig oor wat hy aan haar wil verduidelik. Sal die boek moet lees om uit te vind.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s