Onderhoud met ‘n Manlike leser: Gert Wolmarans

Gedink ‘n motorwerktuigkundige is te macho om liefdesverhale te geniet? Lees bietjie hier:

Vertel ons so ‘n ietsie oor jouself.

Ek was vir die afgelope 7 jaar ‘n motorwerktuigkundige vir Ford en Mazda. Ek het gekwalifiseer en is een van die bestes in my veld. Ek verkoop nou karre vir hulle, want een of ander tyd moet mens “die leer” begin klim. Ek is gelukkig getroud en het twee wonderlike kinders, Tiger en Miaau. Hulle is net verbloem as katte maar is eintlik leeus. Ons kyk bitter min TV, eintlik net dvd’s. Niks kan ‘n boek wen nie. Ons het November ons eerste huis gekoop en bly in Doornpoort.

Gert, hoe het dit gekom dat jy ‘n romanzaleser geword het?

Ek en my vrou het sewe jaar gelede ontmoet. Eintlik is dit ‘n sprokiesverhaal op sy eie. Ek het as kind alleen grootgeword en kon op 5 al lees en skryf. Arm groot geword, vriende was dun gesaai want arm kinders is nie so gewild nie. Op skool het ek myself verloor in die boekies wat ons moes lees. Al my boeke was in die eerste week klaar, want vinnig lees was een van my voordele. Om tyd om te kry, het ek en my vrou (destyds my meisie) in boekwinkels rondgeloop. Ons eerste Romanza boekie was Meisie uit die boendoe. My vrou het dit eerste gelees en my vertel hoe goed dit is. Ek was half skepties, maar na die eerste hoofstuk was dit nag. Ek het gelees tot ek aan die slaap geraak het. Die volgende oggend 4 uur het ek wakker geskrik, ek het sitkamer toe gesluip met ‘n kombers en die boek voor 6 klaar gelees. Nou is dit al boeke wat ons koop.(nou en dan ‘n Satyn boekie ook)

Sou jy sê jy is ‘in touch’ met jou meer vroulike kant?

Laat ek dit so stel: In ’n huis met 8 tannies (op skool, want ek het by my ouma en oupa grootgeword) laat ‘n man vinnig leer om die toilet seat af te slaan en respek vir ‘n dame te hê. Ek glo ek is meer van ‘n “gentleman”, maar tog verstaan ek ‘n vrou se kop en gevoelens beter. Ek grens seker baie naby aan gay in daai opsigte. LOL. Ek is nie ‘n metroman nie, die spulletjie irriteer my GRENSLOOS! Hulle is meer behep met hoe hulle lyk as oor die meisie??????? Komaan, sy is veronderstel om jou mooiste “accessory” te wees, nie jou “London look” hairstyle nie. Yip, ek is in touch met my vroulike kant en trots daarop.

Watter Romanzas geniet jy die meeste?

Romantiese komedie

Lees jy ander reekse romanses ook?

Ja, Satyn. HE he he. Hoe noem hulle dit? Hygromans? Historiese romanse is ook boeiend, maar die een wat ek wil begin versamel, is hierdie reeks boeke. Dis lekker om te sien wat in die verhoudings gebeur na die “Ek is lief vir jou en trou met my”gedeelte, maar uit ‘n ander oogpunt.

Dink jy dat die manier hoe die held uitgebeeld word in die Romanzas in die kol is en tred gehou het met die tyd en die karakter van die deursnee moderne man?

Moderne mans is nie so nie. Hulle is misbruikers en vlak. Ek weet eerlik nie hoe die helfte van hulle vrouens kry nie. As ek by my werk alleen moet kyk, kry ek almal se vrouens jammer. Ek glo daar is sulke goeie mans daar buite, maar dis skaars. En hulle is nie almal biljoenêrs nie!

Hou jy daarvan dat die skrywers soms die man se gedagtes en emosies ook weergee?

Natuurlik. Dis hoekom ek my eie boek wil skryf en als inwerk wat ek dink kortkom. Kom ek sê so: Die meisie in die verhaal lyk meer soos ‘n leëkop pop, omdat die leser reeds optel dat die man gevoelens buite sy beheer vir haar ontwikkel, en sy verstaan nie hoekom hy so optree nie. Intuïsie is tog waaroor vrouens altyd spog? Sy kan teminste begin vermoed, en as die leser weet wat die man dink, begin hulle die kat en muis speletjie geniet, wat die boek meer boeiend maak, ipv waar die man op die einde ‘n halwe hoofstuk al sy optredes verduidelik. Al wat hy op die einde moet doen is om haar te soen laat sy aan hom klou soos ‘n drenkeling.

Is daar genoeg seksuele spanning in die Romanzas na jou smaak?

Meer as genoeg. Om eerlik te wees, ons almal weet daar is bitter min vrouens wat gaan wag om te trou voor hulle seks het. Maar in die boekies is lesers maar krities, want die heldin het dan swak waardes as sy saam met hom slaap. Behalwe as daar reeds ‘n verhouding en intimiteit tussen hulle is. Wat van: Sy is nie hierdie beskeie 1940 maagd nie, maar sy gaan nie saam met elke ou in die bed spring nie. Dit moet alle selfbeheersing kos om nee te sê. Sexual tension moet baie wees, maar seks sal ek verkies om uit die storie te bly tot op die laaste hoofstuk waar die leser sy eie afleidings kan maak of sommer net uitbly?

Is daar iets wat jy vir die Romanzaskrywers wil sê oor hoe hulle die reeks kan verbeter?

Ja, ons het al aan die onderwerp geraak. Moenie ons verveel met verduidelikings en te veel gewonder nie. Werk eerder konflik in. Ek het ook ‘n boek begin lees van ‘n meisie wie se sussie dood is en haar man is eintlik ‘n Arabier en nou moet sy die kind oppas en… Ek weet nie wat verder gebeur het nie, want na ek die 1ste hoofstuk 3 keer gelees het, was ek verlore asof ek informasie gemis het. Die Arabier – nie sexy nie. Italianer, wel. Alhoewel ek dit haat as die ander mans ons vrouens kom “steel”, maar dit verseker altyd ‘n passievolle roman. Maar nie ‘n Arabier nie, asseblieftog!

30 thoughts on “Onderhoud met ‘n Manlike leser: Gert Wolmarans

  1. frenette van wyk says:

    Sjoe, so ’n mondvol uit ’n manlike Romanza-leser se oogpunt, en wat jy sê, is verrassend interessant. Ek het nounet op jou onderhoud met Madelie Human afgekom. Dit maak my opgewonde om te verneem dat ons ook manlike lesers het wat ons skryfkuns geniet en waardeer. My man lees ook elke keer my romanzas voor ek hulle instuur vir LAPA. Hy sê gou vir my waarvan die held in die heldin hou, en waarvan nie, en dit help baie om my stories beter af te rond. Maar ek sal nogal graag ’n hele storie uit die hart van ’n man wil lees, so ek wag gretig vir jou boek.

    • Gert says:

      Swartkoppie, met blou oë! Wipneusie en stywe parmantige agterstewe. Sy moet ‘n tierkat wees, my teen die muur uitdryf. Maar moet al hoe meer sexy lyk vir my hoe meer opdrane sy my gee. Tot ek haar vasdruk en soen dat sy snak na haar asem. Sagte lippies en verleidelike lang wimpers en blas vel, met klein handjies wat ek maklik kan toe vou. Kort meisie, gemaklik in jeans en tekkies, maar so nou en dan ‘n mini om my uit te tart. Rebels en eiewys. Ek hou van ‘n uitdaging.

  2. Lendewaal says:

    Dit was nou insiggewend! Moet nie verbaas wees as jy as ‘n held in een van ons boeke verskyn nie, Gert.

    • Gert says:

      Mag ek ‘n sixpack kry en ‘n bos krullige donker hare en groot arms met ‘n groot huis, miskien in die bosveld, maar wil nie te ryk wees nie, moet my eie lodge he…. O.k, solank ek net ‘n sixpack kry.

  3. Bets Smith says:

    Ek is nou self beïndruk met hierdie jongman wat Romanzas lees. Ek moet erken my skoonpa het al die jare ook romanses gelees omdat hy alles wat in Afrikaans beskikbaar was, verslind het. daarby was hy die grootste gentleman ooit. Ongelukkig is hy nou 92 en reeds 6 jaar lank so swaksiende dat hy net tussen lig en donker kan onderskei. Maar Gert, lees lekker voort, en laat weet ons elkeen by ons eie bloggie as jy een van ons stories geniet het. Groete aan jou vrou.

    • Gert says:

      Dit klink nes ek. Hy klink vir my na ‘n merkwaardige man, iemand om na op te kyk en ‘n standaard vir enige meisie voor sy man kies. Mag hy nog jare vir julle net vreugde en liefde bring.

  4. Marietjie Welgens says:

    Jy kan gerus genooi word na een van ons boek-en-koek geleenthede (of wat van een van Sam van Waverley biblioteek se Romanza-aande, Susan?) waar jy ’n waardevolle aanwins sal wees. Ek het al van jou kommentare gelees, en dit is duidelik dat jy weet waarvan jy praat. Mooi, man!

    • Gert says:

      Ek sal deur riviere swem en varswater haai baklei om daar te wees. Hoop daar is sjokolade koek met dik tuisgemaakte icing!

  5. Arien Lubbe says:

    Gert, is jy beskikbaar vir lesings? Ek dink ek kan ‘n saal vol mans kry wat vriendelik verplig sal word om te hoor wat jy sê.

    Dit was nou baie lekker om so van jou te leer en ek hoop regtig jy skryf jou boek. Ek sal dit ook koop. Dit sal wonderlik wees om ‘n boek te lees en te hoor wat is die regte man se uitkyk.

    • Gert says:

      Lesings. Ek sal ‘n paar mans maak huil. My boek vorder nou al goed, julle help my so mooi. Wel, ek dink dit vorder goed. Soms as ek dit van voor af begin lees, tel ek weer foutjies op. Ek wens mens kon iemand huur om jou goed te lees voordat jy dit moet instuur. Ek sal myself dood huil as dit nie goed genoeg is nie. Ek het nie taalkunde geswat nie, maar is ‘n natuurlike “grammar Natzi” Die is baie moeiliker as wat dit lyk.

  6. Linelle Venter says:

    Wat ‘n wonderlike onderhoud! Dankie, Gert. Daar is min mans wat man genoeg is om erkenning aan hulle ‘vroulike kant’ te gee. Jy’t baie wyshede kwyt geraak. Dink jy dat die ‘moderne mans’ baat sal vind deur Romanzas te lees?

    • Gert says:

      Nou sit ek sowaar verstom. Die rede hoekom ons Romanza’s lees, skryf vir my. Ek voel soos ‘n tiener dogter op ‘n Def Lepard vertoning. Dit beteken vir my baie. Inteendeel, julle almal is fantasties. Ek hoop ons kan almal goeie vriende word en idees uitruil. Romanza moet net sterker en meer “potent”word. Verder weet ek nie wat om te sê nie, die oomblik is nog te groot.

  7. Marile Cloete says:

    Gert, gee jou pelle jou ‘n harde tyd as hul hoor jy lees romanses? Of lees jy in die geheim?🙂

    • Gert says:

      Hulle kan dit kom waag. Hulle sal met my hamer en koevoet vasgevat word! Hulle is darem slim genoeg om hulle kommentaar stil te hou, want ek sorteer hulle gou uit. My beste vriend vanaf skool dae het een aand probeer sy hand vir sy vrou lig, maar het my waardes teenoor dames onderskat. Hy was semi bewusteloos nog voor sy hand afgekom het. Ons vriendskap sal nooit weer dieselfde wees nie aangesien ek al my respek vir hom verloor het. Dit is lekker om te weet dat hy nou sy vrou op sy hande dra, maar die beeld sal altyd by my bly, veral omdat hy my vrou beskuldig het van ‘n swak invloed op sy vrou?” Daar is meer grusame detail wat ek nie oor wil ingaan nie, maar vrouens moet besef, hulle is geen man se speelding nie en moet hulle eie identiteit behou. Geen man is dit werd nie.

  8. Mari Roberts says:

    Dit was nou ‘n aangename onderhoud om te lees. En dit is lekker om ‘n man se siening te hoor, maar Gert, jy moet een ding onthou. Ons moet ‘n 45 000 woorde ‘n storie vertel. Om heel tyd konflik in te werk en die karakters nie te laat dink en wonder nie, gaan pitte kou wees. En ‘n meisie hou van wonder, al vermoed sy iets. Dankie weereens vir jou insette. Ek hoop ons hoor weer van jou en van nog mans wat eerlik kan wees.

    • Gert says:

      Soos ek agtergekom het, ndit is makliker om advies te gee, tot jy dit self moet doen. Wat ek na my vinnige boek lees vanoggernd(van 2 ure), moes ek uiteindelik stop om te kom werk, nou sit ek in die middel van ‘n hoofstuk en ek brand om te weet wat volgende gebeur. Die wonder van die karakters laat jou ook wonder. Nou vermoed ek wat gaan gebeur en soos gewoonlik gebeur dit nie, en dit hou my geintreseerd. Ek was heeltemal verkeerd oor my stelling.

      • Mari Roberts says:

        Dit is hoe jy voel, moenie daaroor jammer wees nie. Dit gaan my (as ek weer skryf) meer bedag maak op die wonder deel en dan gaan die boek net beter wees. Dit is hoekom ons dit waardeer as ons die leser se insette hoor. Veral positiewe kritiek. Hou baie daarvan!

  9. Magdaleen Walters says:

    Nou toe nou, ‘n held het uit ‘n boek ontsnap en loop in lewende lywe rond. Hier in Doornpoort, nogal. Van só ‘n man hou ek – ‘n gewone man wat nie probeer om allerhande wonderlike goed te wees wat weinig beteken wanneer mens saam met iemand wil dubbelvou van die lag of wanneer die donker reëndae van die lewe aanbreek nie. (Hoe klink daai ou popliedjie oor die ‘show-offs’ en die ‘know-alls’ met die uiterlike vertoon? “That don’t impress me much”.) Want in werklikheid soek ‘n mens ‘n medemens aan jou sy. En as daardie medemens kan lyk en redeneer soos die man op die foto hierbo, des te veel beter. Geluk aan jou vroutjie, sy’t goed getrou. En geluk aan Madelie ook, wat jou ontdek het. Gert, en hiermee belowe ek plegtig dat indien jy ‘n boek skryf, ek hom SAL koop.

    • Gert says:

      Ek is besig met ‘n boeke jag. Ek het altyd gewonder hoe lyk die gesigte van die dames wat die boeke skryf. Ek het die beeld altyd in my kop van hierdie pragtige jong asters met lang hare en die mooiste lyfies. En ek was reg. Want ek het nog nie een knorrige ou tannie hier ontmoet nie. Nogal vreemd om die mense se persoonlikheid te leer wat jou gunsteling boek geskryf het. Ek glo almal sit maar tog bietjie van hulle self in enige boek wat hulle skryf. Nou probeer ek almal se boekies kry wat ek kort, klaar my boekrak uitgepak(dit was nogal baie werk), maar nou word my boeke volgens name gerangskik, nie titels nie.

  10. Rika Du Plessis says:

    Dankie vir jou kommentaar, Gert. Ek is seker as ons sou mag, sou die meeste van ons ook die man in die verhaal se gedagtes wou weergee, maar dit is ‘n nee vir ons. Dit is egter goed om te hoor dat mans soos jy wel ons boeke lees.

    • Madelie Human says:

      Oukei, ‘beste bate’ klink BAIE beter as ‘aanhangsel of bykomstigheid’,wat die Afrikaans is vir accessory, nie waar nie? Maar dit impliseer steeds dat ‘n vrou iets is wat ‘n man kan bekom of aankoop. Voordat mans nie besef dat vroue mense in eie reg is en nie besittings of aanhangsels van die manne nie, sal daardie ouens van wie jy ons vertel wat saam met jou werk en hul vroue so sleg behandel, NIE verander nie. Miskien is jy net die man om daardie verandering te bewerkstellig, al is dit net onder die manne met wie jy kontak het! Miskien kan jy hulle leer om vroue te respekteer soos daardie agt tannies in die huis jou geleer het.

  11. anngert Annetjie says:

    Dankie Gert, jy het ons baie gegee om aan te dink. Jy het sulke goeie insigte in die genre dat jy regtig jou hand daaraan kan probeer. Jammer oor die hedendaagse man se vlak uitkyk, wens daar was meer soos jy. Miskien moet ons jou kry om ons werk te resenseer.

  12. Madelie Human says:

    Dankie vir die heerlike geselsie, Gert! Die Romanzaskrywers sal beslis jou gedagtes ter harte neem. Ek dink net jy gaan opdraande kry oor jou aanmerking dat ‘n vrou die man se beste accessory is!! Hoeeeee! Wees gewaarsku …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s