Proestukkie: Die Aanbod, Alma Carstens

Lesers kan uitsien na Alma se nuutste treffer in April:

Toe Karlien klaar ’n warm stort geneem het en in die sitkamer kom, wag Steve haar in met ’n kokende koppie kakao, wat hy in haar hande druk.

“Kom sit hier. Mina het vir jou ’n kombers gekry.”

Sy krul haar snoesig in die stoel op en omvou die koppie met albei haar hande. Na ’n uitgerekte stilte kyk sy op en betrap Steve se oë deurdringend op haar.

“Ek skat jy sal later jou pond vleis opeis,” sê sy kalm.

Hy frons en sy lig haar ken uitdagend. “Steve Durandt deel mos nie gunsies en gawes uit nie, dus wag ek om te hoor wat jy van my wil hê noudat jy so te sê my lewe gered het.”

Daar is ’n flikkering in sy oë voordat hy skeef glimlag. “Ek kan nie nou aan iets dink nie, maar ek sal dit in gedagte hou, Katryntjie. As jy my vir my heldedaad wil vergoed, is ek seker ek sal wel iets kan vind om jou van jou skuldlas te verlos.”

“Iets soos die stuk grond langs die rivier?” vra sy skerp. Noudat die lewe terug is in haar halfverkluimde lyf, sien sy haar redder weer vir die geldwolf wat hy is.

“Nee,” antwoord hy oënskynlik ingedagte, “iets meer persoonliks, dink ek.”

Karlien swaai haar bene van die stoel af en sit dreigend vorentoe. “Steve Durandt, moenie weer met jou troustories begin nie. Hierdie sogenaamde skuldlas van my regverdig nie ’n lewe in ’n tronk nie.”

“Die lewe saam met my sal allesbehalwe ’n tronk wees, Katryntjie. Maar laat ek jou net gerusstel: Ek sal jou nooit dwing om met my te trou nie. Jy gaan dit uit jou eie, vrye wil doen, Karlien van Deventer.” Hy leun vorentoe en sy oë flits in hare terwyl ’n glimlag om sy mond vou. “En daardie besluit sal niks met Blouberg of skuld te doen hê nie,” treiter hy haar met ’n sagte stem.

Karlien staar gefassineerd na sy aantreklike gesig so naby hare en lek oor haar droë lippe omdat dit voel asof sy nie asem kan kry nie. Haar oë gly na sy mond waar die glimlag effens weifel. Sy leun nader aan hom terwyl warm begeertes onverwags deur haar skroei.

Hy staan op en sy blik flits na die horlosie bokant die kaggel. “Jy moet in die bed kom,” sê hy gejaagd. “En ek het gaste op Lindani wat aandag nodig het. Nag, Karlien.”

Voordat sy mooi tot verhaal kan kom, is hy by die deur uit en hoor sy sy voertuig wegry. Sy bewe onverklaarbaar hoewel sy snoesig en warm onder die kombers sit. Met haar hand om haar keel, voel sy hoe haar hart onbedaarlik in haar kuiltjie klop. Wat gaan met haar aan? As sy haar nie verbeel nie, het sy so pas vuriglik gewens dat Steve Durandt, haatlike Blink Stefaans, haar moet soen. As hy nie so vinnig opgestaan het nie, sou sy hom waarskynlik gesoen het totdat hy na sy asem snak. En dit terwyl sy die man nie kan verdra nie!

************************************************************************

Sy hoor die water in die badkamer en voel haar hartklop versnel toe sy aan sy aanraking van flussies dink. Dis baie vreemd dat ’n man wat sy voorheen nie kon uitstaan nie, so ’n uitwerking op haar het, dink sy ingedagte. Maar dan is dit seker net doodnatuurlik dat ’n man soos Steve so ’n uitwerking op ’n vrou sal hê, verdedig sy dadelik haar gedagtes. Hy is die perfekte voorbeeld van manlikheid en baie vrouens se droomman.

“Maar nie myne nie,” fluister sy vir haar beeld in die spieël terwyl sy lipstiffie aanwend. “Nie myne nie,” herhaal sy effens harder en klad haar lippe. Michelle se beeld verskyn voor haar geestesoog en dit laat haar keel effens toetrek. Die gedagtes aan die blondekop saam met Steve staan haar nie aan nie en sy het geen idee waarom dit haar so grief nie.

Die badkamerdeur gaan oop en Steve stap die kamer binne met net ’n handdoek om sy middel gedraai. Karlien se oë skuif stadig in die spieël na sy sonbruin bolyf toe hy ’n hemp van die hanger afhaal en skielik voel dit asof iemand haar ’n vuishou op haar maag toedien. Sy hou hom dop terwyl hy sy vingers onverskillig deur die nat, donker hare trek nadat hy die hemp oor sy kop gegooi het.

Toe hy ’n langbroek van die hanger afhaal en die handdoek om sy middel begin losmaak, knyp sy haar oë vinnig toe en verwens die man wat so onbeskaamd voor haar aantrek.

“Is jy al klaar?” vra sy met steeds toegeknypte oë voor die spieël.

“Klaar waarmee?”

Sy maak haar een oog effens oop en sien dat hy ten volle geklee na haar staan en kyk, ’n glimlag om sy mond.

“Jy kon maar kyk, Katryntjie. Ek weet jy wou graag,” terg hy en lag vir die blos wat oor haar wange vee.

Sy klap haar tong en draai weg van die spieël. “Jy sal jou wat verbeel, Blink Stefaans. Kom, hulle wag seker al vir ons.”

Hy vang haar liggies aan haar pols toe sy verby hom wil stap na die deur en swaai haar stadig terug sodat sy reg voor hom staan. Sy blik beweeg tydsaam oor haar gesig, dan vlugtig af na die lyne van die rok wat laag oor haar borste span voor hy haar oë met syne vasvang.

“Rooi pas jou,” sê hy sag en vee met sy voorvinger liggies oor haar wang.

Karlien voel hoendervleis oor haar vel uitslaan soos een wat koud kry, maar voordat sy kan reageer, draai hy om en maak die deur oop.

3 thoughts on “Proestukkie: Die Aanbod, Alma Carstens

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s