Proestukkie: Onvoorwaardelik syne

Hier volg ‘n lusmakertjie uit Magdaleen Walters se nuutste romanse, Onvoorwaardelik syne:

“Het my kat oortree?” wil sy weet.

“Hy’t met sy modderpote oor my kar se bonnet geloop.”

Sy rek haar oë. “Dis verskriklik.”

“En oor die voorruit. En toe gaan eet hy sy vink op die dak. Dis net bloed en vere. Vat die ding, asseblief.”

“Ag, néé, Pity.” Sy vat haar kat uit daardie yslike paar olie-besmeerde hande, hou haar gesighoogte en maak oogkontak. “Jy wéét jy mag nie die Liewe Heer se voëltjies vang nie. Jy kry oorgenoeg om te eet.”

“Liewe Heer?” Thomas staan haar met geligte wenkbroue en bekyk. “Ek dog dan jy’t vir ‘n heks gaan leer.”

Sy laat haar mond toe om oop te val, kyk hom openlik geskok aan.

Hy vou daardie paar arms van hom. “Dis wat die mense gesê het.”

Sy slaan haar oë op. “Die kleindorpse onkunde tog,” prewel sy. “Jy’t seker gesien wat op die bord by my voorhekkie staan?”

“Een-of-ander som-iets.”

“Somatologie. Ek is ‘n skoonheidsdeskundige.”

“Ag, nee. Ek glo dit nie. Met sewe onderskeidings in matriek?” Hy klink so verslae dat sy hom met vernoude oë aankyk.

“En ‘n refleksioloog en ‘n aromaterapeut,” vuur sy haar volgende skote.

“O, mag. Wat’s dit? Of moet ek liewer nie vra nie? Dalk is dít waar die heksery inkom.”

“Ag, ek dink nie jy hoef te vra nie. Die kans is skraal dat jy ooit van my dienste sal gebruik maak. Jy sien, my praktyk is op die meer sensitiewe deel van die samelewing gerig.”

Hy skud sy kop. “Kon jy aan niks nuttigers dink om met daai brein van jou te doen nie?”

“Soos wat?” Sy sal nie kwaad word nie. Sy sal nie.

“Jy kon toe-oë keuring gekry het vir medies as jy wou.”

“Ek het keuring gehad. Ek het net anders besluit.”

“Soos om in jou ouma se spookhuis te kom bly en vrouens mooi te maak?”

“My ouma spook nie en vrouens is veronderstel om mooigemaak te word.” Haar stem is nou koel. “En mag ek vra wat jy met jóú lewe gaan doen het? Behalwe om in karenjins rond te krap en jouself vol olie te smeer.”

Iewers aan die anderkant van die heining klap daar weer ‘n deur. “Thomas?” roep ‘n vrouestem.

“Hier langsaan,” bulder hy terug sonder om sy blik van Debbie se gesig te neem. “Ek het gaan doen wat ek gesê het ek gaan doen,” sê hy.

“Jy’t gesê jy gaan…” sy bly stil.

Hulle staar na mekaar. Daar is voetstappe en die voorhekkie gee weer sy skreetjie, maar tussen haar en Thomas Burger val die jare weg tot by daardie rou dag net voor haar eindeksamen toe hulle mekaar ‘n finale koebaai toegesnou het. Koebaai, Thomas Burger. Sukkel maar voort hier op Slabbertsrus as jy dan soos jou pa wil leef. Ek gaan ‘n dokter word. Soos my pa. Met sý geld en wat daarvan? En sy antwoord? Koebaai, Debbie Robinson. Ek gaan nie sukkel nie, ek gaan ‘n rykgat word. Soos jóú pa. Sonder sy geld. Al moet ek ook soos mý pa karenjins regmaak vir die res van my lewe.

“Jy’t gesê jy gaan karenjins regmaak soos jou pa,” voltooi sy haar sin amper onhoorbaar sag.

Hy grinnik sonder dat sy oë saam glimlag. “Ek het gesê ek gaan ‘n rykgat word soos jóú pa.” Hy sê dit net so sag, maar met nadruk.

“En is jy een? ‘n Rykgat?” Sy’t nie bedoel om so smalend te klink nie.

One thought on “Proestukkie: Onvoorwaardelik syne

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s