Proestukkie: Heeltemal seker

Heeltemal seker deur Elize Davies het in Februarie by Lapa verskyn. Sy het ook hierdie week se blogfoto uit England aangestuur.

Hier volg ‘n lusmakertjie uit Heeltemal seker:

Dit is warm!!!   Nie ‘n luggie roer hier in die tent nie.  En sy is honger.  En dors.  Gelukkig is daar koue koeldrank in die yskas, onthou sy dankbaar en spring op om een uit te haal.

‘n Halfuur later wens sy sy het nooit die blikkie koeldrank gedrink nie, want nou het ‘n ander dringende behoefte ontstaan:  die behoefte aan ‘n badkamer.

Naderhand kan Linda die ongemak nie meer uithou nie.  Sy sluip deur toe en begin die ritssluiter sentimeter vir sentimeter aftrek.  In die stilte klink die krasgeluid so hard soos ‘n geweerskoot.

‘n Harde gerammel word skielik hoorbaar en sy verstyf.  Is dit die olifant se maag wat so rammel?  Dan lag sy snakkend en hardop van verligting.  Dis die gerammel van die Land Rover se enjin.

Ben weet nie van die olifant nie!  Sy moet hom waarsku!

Maar toe Ben se voetstappe reeds voor die tentdeur opklink, sukkel sy nog met dom hande om die tentdeur oop te maak.  Die rits gly onder haar vingers oop en dan word die deur oopgeruk.

“Wat de …”

Ben toring bo haar uit en kyk fronsend op haar af.

“Daar was ‘n olifant.”  Sy loer verby hom in die rigting van die boom waar die olifant was, maar sien niks nie.   Haar bene voel lam van verligting en sy tree agteruit en sak op haar kampbedjie neer.

“Hy was net daar, by die bome.  Hy het my gesien.”

“Wat het hy gedoen?”
“Gevreet.  Hy het gestaan en blare van die boom afgestroop en geëet en net vir my gekyk.”

“Toe hardloop jy.”  Ben staan nog vir haar en kyk met sy hande in die sye, en daardie haatlike, beterweterige uitdrukking in sy oë.

Linda lig haar ken.  “Ek het nie gehardloop nie,” sê sy waardig.  “Ek het stadig beweeg om hom nie te laat skrik nie.”

“Hoe lank gelede was dit?”
“Lank gelede.  Ure gelede.”

“En jy kruip nog die hele tyd hier binne weg?  Jy kan nou maar uitkom, Juffrou die dapper Joernalis, hier is geen teken van ‘n olifant buite nie.”

Hy draai weg, deur toe, maar voordat hy omdraai sien sy hom glimlag, die spottende, meerderwaardige glimlag wat sy so haat.  Blind van woede sluit haar hand om die tekkie by haar voete.  Sy slinger dit in die rigting van Ben Lategan se verdwynende figuur en sien met genoegdoening hoe die skoen hom vol tussen sy breë skouerblaaie tref.

Hy gaan staan doodstil en draai stadig om.  Sy glimlag is weg.  Drie lang treë bring hom tot reg voor haar.  Sy mond is ‘n dun streep toe sy hande uitskiet, haar polse vasklem en hy haar op haar voete pluk.  Sy oë is twee ysblou, nou splete.

“Moet dit nie weer doen nie, Linda Nagel,” waarsku hy sissend.   “Ek sal jou nou oorsien.  Jy is oorspanne;  jy het geskrik.  Maar doen dit weer en jy sal die gevolge dra.”

Die blou oë boor in hare.  Dan los hy haar hande, draai weer om en stap weg.

Die versoeking is byna onweerstaanbaar.  Soos blits is haar tweede skoen in haar hande.

Voordat sy kan gooi, het Ben omgeswraai.

Sy oë vernou toe haar met die skoen in haar hand sien. “Toe, gooi,” daag hy.  “Ek wag.  Ek sien uit daarna.”

Sekondes gaan verby.  Spanning lê dik en taai tussen hulle.

Linda kyk eerste weg.  Sy buk en sit die skoen langs haar bed neer.

Toe sy regop kom, is Ben nie meer in die tent nie.

Die res van dag verloop in stilte.  Ben is afgetrokke en stil en praat net die nodigste.

Dit pas haar goed, dink Linda opstandig.  Beterweterige, irriterende, frustrerende  mansmens!  Sy is bly sy het hom met die skoen gegooi – net jammer sy het hom nie teen die kop getref nie!  Sy wens sy het die moed gehad om daardie tweede tekkie te gooi.  Wat sou hy gedoen het? wonder sy met ‘n skuldige gevoel van opwinding.  Hy was kwaad  – dit het behoorlik gelyk asof hy haar te lyf wou gaan.

En tog was sy geen oomblik vir hom bang nie.

4 thoughts on “Proestukkie: Heeltemal seker

  1. Madelie Human says:

    Pragtige foto, Elize! Jou boek lê op my bedkassie. O nee wag, ek sien nou my man het hom gesteel en sit met hom op sy gunsteling leunstoel … h’mm … ek dag hy lees net mý romanses! Sal jou laat weet wat die manlike leser se opinie is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s