Proestukkie: Kammaliefde

Kammaliefde is een van die verhale wat opgeneem is in Kristel Loots se nuutste duet, Een plus een.

Nanzi sug. Soms vra die lewe net te veel van haar. Soms gebeur dinge net te vinnig en nooit na haar smaak nie. Al wat sy wil doen, is om in ’n hoekie te lê en krepeer – as sy net ’n donker genoeg hoekie kan kry waar niemand haar sal sien nie. ’n Privaat plekkie waar niemand haar sal bejammer en oor haar sal fluister nie. Pateet par excellence – dis wat sy deesdae is!

“Stop the world, I wanna get off!” brom sy binnensmonds toe sy die telefoon nader trek. Maar die aarde het nie ophou tol net omdat dit so vir haar voel nie, en haar baas se geduld met haar sal nie vir altyd hou nie. Sy moet haar werk doen, of sy moet haar goed pak en loop – dis hoe Greg dit aan haar gestel het. “Life’s a bitch, my dear,” het hy haar herinner. “And then you die.”

Iemand soos Greg gaan haar nie pamperlang nie. Wat hom betref, is dit reg, of weg. Dis net dat sy nêrens het om heen te gaan nie. Daarom moet sy maar sluk wat die lewe na haar kant toe gooi.

My naels is darem nog mooi lank, dink Nanzi dankbaar toe sy die nommer skakel wat sy teen hierdie tyd uit haar kop ken. Dit sou aaklig gewees het as ek uit pure frustrasie daaraan begin kou het. Sy tel hoeveel keer die telefoon lui. Drie, vier, vyf … Sy wil betyds neersit voordat die simpele antwoordmasjien se blikstem haar nooi om ’n boodskap ná die sein te los.

Want dit help nie! Sy los boodskap ná boodskap, sy rol haar oë hemelwaarts en hou haar stem so vriendelik moontlik, maar die dekselse mansmens bel haar nie terug nie. Die tyd stap aan en sy moet net by Krisjan van der Merwe uitkom.

As hy landuit is … of dood … sal sy hom nog verskoon, maar andersins is sy gedrag onvergeeflik. Waarmee kan ’n boer soos hy nou so danig besig wees? Koeie melk? Varke kos gee? Sy kry eerder die idee hy sit sy dae op die stoep om. Hoe anders kry hy dit reg om sulke ellelange teorieë en filosofieë op die internet te plaas? Almal met dieselfde strekking: Kom huis toe, al julle verlore skapies wat glo die gras aan die ander kant van die oseaan is groener as hier onder die Suid-Afrikaanse hemel.

“Ja! Krisjan van der Merwe hier!”

Nanzi wip soos sy skrik. Liewe hemel, die man se telefoonmaniere laat veel te wense oor. Eers swyg hy soos die graf en nou klink hy soos ’n ballon wat in haar oor bars.

“Meneer Van der Merwe?”

“Ja.”

“Goeiemiddag. Dis Nanzi de Wet hier.”

“Wie?”

O, wonderlik! Hy weet nie eens meer wie sy is nie. Wys jou!

“Nanzi de Wet van Ons mense. Ek het jou verlede week gebel in verband met die projek wat ons tydskrif saam met jou organisasie begin. Onthou jy? Die Kom terug-veldtog om die oorsese expats terug Suid-Afrika toe te probeer lok?”

Sy hou haar stem so formeel moontlik, al brand sy om hom van ’n kant af uit te vreet. Ken jou plek, Nanzi de Wet, spreek sy haarself streng aan. Jy is nie in die posisie om bitsig te wees nie. As Greg jou onder jou watsenaam skop omdat jy hierdie projek opgeneuk het, sit jy behoorlik in tamatiestraat.

“Ja! Ons moet by mekaar uitkom sodat ons finale reëlings daarvoor kan tref.”

“Presies. Dis hoekom ek jou die afgelope paar dae probeer bel het.” Sy moet dit seker daar laat, maar sy kry dit nie reg nie. “Verniet,” voeg sy vies by.

“Jy moes vir my ’n boodskap op die antwoordmasjien gelos het.”

Nanzi kners heimlik op haar tande. “Ek het,” verseker sy hom. “Jy het dit seker nie gekry nie.”

Mog hy die skimp vang en hom diep en innig skaam! hoop sy.

Maar haar sarkasme is vermors op hom.

“Seker nie,” beaam hy.

Sommerso! Sonder verskoning, sonder verduideliking? Nanzi voel hoe ’n sweetdruppel tussen haar borste afloop en ’n ligte hoofpyn teen haar slape begin klop.

“Wel, kan ons ’n vergadering probeer reël, asseblief?” vra sy en probeer steeds so professioneel moontlik bly. “Wanneer sal jou pas?”

“Hoe gouer hoe beter. Ons het nie veel tyd oor nie.”

“Vertel my iets wat ek nie weet nie, meneer Van der Merwe.”

Sy voeg ’n laggie by om die steek uit haar woorde te neem.

“Solank jy net nie van my verwag om binne die volgende paar dae stad toe te kom nie. Ek kan onmoontlik nou hier weg.”

Nou hoe dan anders? Wat sou die man in gedagte hê? Tog net nie weer ’n virtuele konferensie nie. Sy haat dit! As sy haar sin kon kry, wou sy nooit weer in die koue oog van ’n televisiekamera vaskyk nie, wou sy nooit weer met daardie ongemaklike gevoel worstel nie, weer toelaat dat die ou herinneringe haar oor die kop slaan, of dat die onsekerheid oor wat eg en reg is en wat blote skyn is, aan haar hart laat vat nie. Van kamma-kamma wat haar lewe lank aan haar hakskene byt, het sy genoeg gehad.

Natuurlik verstaan haar baas nie haar teësin nie. Hy’t nie haar lewe geleef nie. Vandat sy kan onthou, was sy voor die kameras, moes sy ’n rol speel wat min met die werklikheid ooreengekom het. Dis dinge wat veronderstel is om verby te wees, maar wat gereeld nog by haar spook.

“Hoe vas is jy daar anderkant?” wil Krisjan in haar oor weet.

Vas? Wie, ek? sou sy hom kon vra. Soos in: Het ek ’n man en ’n string kindertjies wat skreeuend van die honger by die huis op my wag? Dan is die antwoord nee, meneer Van der Merwe. Ek het nie kind of kraai nie, nie eens ’n kêrel nie. Ek is ’n loslappie. Nie uit eie keuse nie, hoor! Maar omdat ek nie ’n sê in die saak gehad het nie.

Behalwe, onthou sy betyds, die kat. Ek het darem ’n kat by die huis, maar … dis nie my kat nie. Dis ’n rondloperkat wat deur die venster gespring het op ’n aand toe ek wou vergaan van ellende. Ek weet nie wie troos vir wie nie, ek weet net ek spits soms my ore om te hoor of Kat in die omgewing is. En al is ek ook bang vir my eie skaduwee, los ek saans die kamervenster oop sodat hy kan inspring as daar die nag nie katwyfies of enige ander rede vir ’n gekattemaai is om hom te vermaak nie. ’n Mens kan maar sê ons is geesgenote. Eensaam en alleen en taamlik verweer – ek én die kat!

En dan is daar darem ook Wanda, wat nou anderdag eers in my woonstelblok kom nesskop het en niks van die omwentelinge van my onlangse verlede weet nie. Dis ten minste iemand wat sal agterkom as ek van die aardbol af verdwyn, maar ook net wanneer sy iets uit my koskaste nodig kry en ek nie daar is om dit vir haar aan te gee nie. Wanda het genoeg mans in haar lewe om ’n rugbyspan vol te maak – met ’n paar reserwes. Sy geniet die wesens se geselskap, so verseker sy Nanzi, maar sy laat hulle nie toe om modderspore oor haar hart te trap nie.

Daar is inderdaad niemand hier in die stad wat haar hier hou nie, niemand wat omgee of sy êrens lê en bloei nie, niemand wat gaan bel om te hoor waar sy is as sy laat is nie, niemand wat oor haar gaan wakker lê nie.

As haar selfoon lui, hou dit met haar werk verband. Andersins is sy ’n vry vrou! En dis ’n vryheid wat haar benoud maak …

Sy sug hoorbaar. “Hoekom vra jy?”

“Miskien is dit ’n goeie plan as jy plaas toe kan kom. Sommer vir die naweek, sodat ons alles kan agtermekaarkry. Hoe lyk dit? Ek sal met jou baas praat.”

“Dis nie nodig nie, dankie. Ek kan self met my baas praat.”

Die vraag is eerder of ék dit wil doen, dink Nanzi. Of ek in my kar wil klim en die pad Karoo toe wil vat om ’n naweek op ’n plaas te gaan deurbring by mense wat ek glad nie ken nie. ’n Man wat blykbaar ’n vretende passie het om sy landgenote terug te lok, maar dit net so maklik afgeskakel kry wanneer hy moet koeie melk of varke kos gee. As almal op Leliesvlei soos die baas van die plaas klink, sien sy nie juis ’n plesierige naweek voor haar uitstrek nie.

“Dis ’n bietjie onkonvensioneel,” laat sy hoor.

“Maar gerieflik.”

Vir wie? Vir hom en die res van sy gesin? Dan hoef hy nie in sy motor te klim en te ry nie, nie in die Kaap in ’n vyfsterhotel te kom oornag nie. Nee, hy kan sit en televisie kyk terwyl die kinders die koerant aandra en sy vroutjie sy pantoffels. Dit terwyl sy … wel, om eerlik te wees … terwyl sy, met haar skedonkie en al, die geleentheid kry om ten minste vir die naweek uit die stad te ontsnap. Om nie van Vrydag tot Sondag teen die vier mure van haar woonstel vas te kyk en die telefoon op te pas in die vae hoop dat die ding, teen alle verwagting, aan die lui sal gaan nie. Twee, drie dae waarin sy nie teen die volgepakte bokse teen die mure hoef vas te kyk en met elke tree wat sy gee, swaar aan die aalwynsap van vernedering hoef te sluk nie. Waarin sy nie daaraan herinner hoef te word dat sy teen hierdie tyd in haar nuwe tuiste gevestig sou wees nie.

Skielik lyk ’n naweek op ’n Karooplaas nie meer na so ’n slegte idee nie. “Hoe kom ek daar?” vra sy.

“Maklik. Ek kan vir jou ’n kaart faks as jy wil.”

Jy kan dalk, ja, maar sal jy? wonder Nanzi. Te oordeel na sy optrede tot dusver, het sy ’n nare idee Krisjan van der Merwe is een van daardie mans wat maklik beloftes maak, maar nie so vinnig is om dit na te kom nie. Nog een wie se woord nie sy eer is nie!

Hy was veronderstel om haar te bel, verlede week al. Hy’t belowe. Sy’t gewag en gewag en Greg se vrae oor die voorgenome toer Londen toe probeer ontduik. Totdat sy nie langer kon wag nie. Toe het sy gebel … tot haar vingers moeg was en haar geduld op, en toe sy hom uiteindelik kry, het hy blykbaar heeltemal van haar vergeet. Asof haar selfbeeld nie al klaar tot ’n bouval gereduseer is nie! Dis erg genoeg dat sy op persoonlike vlak tot stof verneder is, sy kan dit nie in haar professionele lewe ook toelaat nie.

“Sommer nou dadelik, asseblief?” vra sy.

“Ek maak so,” belowe hy voordat hy groet.

Maar toe Nanzi hom die volgende dag die derde keer aan die faks herinner, blaf hy in haar oor: “Wat is jou haas, meisie? Dis vandag eers Donderdag.”

“Ek wil môre dadelik ná werk ry.” Sy doen haar bes om kalm te bly. “En omdat ek voor donker daar wil wees, wil ek seker maak jy bly nie te ver in die grammadoelas nie. Ek ken nie die pad nie en ek wil nie graag verdwaal nie.”

“Jy klink soos ’n oujongnooi,” lag hy. “Een van daai wat ’n duiwel agter elke bos uitskop en onheil verwag elke dag as die son skyn, en op reëndae dubbel soveel.”

“Wel, ekskuus my as ek veiligheidsbewus is, meneer Van der Merwe. In vandag se dae moet ’n mens noodgedwonge wees, veral ’n vrou.”

Hy’s reg! besef Nanzi met ’n skok. Sy klink paranoïes, presies soos ’n oujongnooi.

“Is jy?” vra hy, die lag nog in sy stem.

“Is ek wat?”

“’n Oujongnooi?” Die ingehoue lag kleur sy stem verder.

Vervlakste mansmens!

“Volgens sekere standaarde kan ek seker al as een beskou word.” Daar is yssplinters in haar stem. “Maar net in kringe waar ’n vrou nog veronderstel is om te trou en kinders by dosyne te baar die oomblik as sy van die skoolbanke af opstaan.”

“Ek lei af jy sal nie meer ’n skoolbank herken as jy een sien nie?”

Nanzi kan haar ore nie glo nie. “Jy probeer seker nie agterkom hoe oud ek is nie, of hoe, meneer Van der Merwe? As ek reg onthou, is dit die toppunt van swak maniere om na ’n vrou se ouderdom te vra.”

“As jy huiwer om vir my te sê, kan ek raai dat dit al taamlik laat in die dag vir jou is.”

Hoe de joos het ek hierin beland? wonder Nanzi. Die man wat te besig is om sy telefoon te antwoord, het nou tyd om my siel te versondig.

“As jy bygebly het, meneer Van der Merwe, sal jy weet dat dertig die nuwe twintig is.”

“Ek weet darem nie,” peins hy. “Ek dink die aantal somers wat ’n mens agter die rug het, knak daardie rug van jou en wys op jou gesig.”

Nee, kan sy vir hom sê, dis nie die jare wat op jou gesig wys nie, dis die dinge wat jou aangedoen word. “Ek is nie ’n ongeskonde bakvissie nie, meneer Van der Merwe,” sug sy. “Ek is ’n vrou, oud genoeg om te weet van die gevare wat ’n mens langs die pad kan oorval. Daarom sal ek dit waardeer as jy vir my daardie kaart faks, dankie.” Daarmee beskou sy die gesprek as afgehandel.

“Ek maak so, hoor?” beloof hy weer.

“Ek wil sommer jou selfoonnommer ook hê, asseblief?” vra sy.

As die mansmens weer verdwyn, wil sy hom kan beetkry waar hy hom ook al bevind – in die koeistal of in die varkhok!

Ek ken mans, dink Nanzi met ’n tikkie hartseer toe sy groet. Ek het van die begin af geweet hierdie een is nie te vertrou nie. Die teleurstelling laat ’n bitter smaak in haar mond. As dit so aangaan, sal geen mansmens dit ooit weer naby haar waag nie. Veral omdat sy hom nie daar gaan toelaat nie!

Toe die faks minute later deurkom, kan Nanzi nie gou genoeg daar kom om dit te lees nie. Haar oë gly oor die papier, soek na iets persoonliks, iets in die trant van hul laaste gesprek, maar daar is niks. Net ’n gekrabbel wat wys waar sy van die nasionale pad moet afdraai en dat dit daarna nog sowat vyftig kilometer tot by Leliesvlei is. Diep genoeg in die grammadoelas om my bang te maak, besluit Nanzi toe sy sien dat die laaste stukkie pad ’n grondpad is. Krisjan van der Merwe moet onthou sy ry nie met een van sy plaaslorries nie, sy ry met ’n stadsmotortjie wat nie aan sulke ruwe behandeling gewoond is nie.

Tog is daar ’n tikkie opgewondenheid in haar toe sy daardie aand haar oornagtas pak. Sy skrik toe die kat met ’n reusesprong op die bed beland. “Hallo, Kat,” groet sy en streel oor sy kop. “Het jy planne vir die naweek? Gaan jy my mis?”

Dis ’n probleem, besef Nanzi. Sy kan nie die venster ooplos as sy vir ’n hele naweek weg is nie. Die diefwering voor die venster is so dun soos garedraadjies en rooi geroes. Dit hoef nie eens ’n spiertier te wees wat dit van mekaar af kan wegbuig nie.

Met die kat onder die arm gaan klop sy by Wanda aan. “Is jy hier?” roep sy. “Dis ek, Nanzi.”

Vir ’n wonder is Wanda alleen. “Is dit moontlik?” vra Nanzi. “Waar’s al jou kêrels dan vanaand?”

“’n Meisie moet darem partykeer ook haar hare was, jy weet?” antwoord Wanda. “Gun my die rus.” Sy spring opsy toe sy die kat sien. “En die kat nou? Wat is sy storie?”

“Hy’t daar by my aangekom, ’n paar weke gelede al.”

“En toe gee jy hom seker ’n piering melk en iets om te eet?”

“Tuna, ja. Gelukkig het ek ’n blikkie in my kas gehad.”

“Ek nou sit jy met die ding opgeskeep? Jy weet ons mag nie troeteldiere aanhou nie.”

“Dis ook nie wat ek doen nie,” verdedig Nanzi. “Dis nie my kat nie.”

“Jy bring hom net nie in my woonstel in nie,” keer Wanda. “Ek is allergies vir katte. En vir honde. Sommer vir alles wat vier pote het.” Sy lag skalks. “Maar nie vir die diere met twee pote nie – vir hulle sien ek kans.” Sy hou haar hande afwerend voor haar toe Nanzi Kat wil nader bring, hopende sy sagte snoesigheid sal Wanda se hart verteder.

“Ek wou juis kom vra of jy nie ’n ogie oor hom sal hou terwyl ek weg is nie,” sê Nanzi afgehaal.

“No ways,” verseker Wanda haar. “Behalwe as hy ’n baas met ’n vet bankrekening en ’n rooi sportmotor het, kan ek jou ongelukkig nie help nie, jammer, hoor?”

Die kat voel blykbaar aan hy is nie welkom nie en seil sierlik uit Nanzi se arms, reguit terug na haar woonstel toe.

“Waarheen gaan jy dan?” wil Wanda weet. “Vertel, vertel.” Sy trek Nanzi agter haar aan die woonstel in.

“Daar is niks te vertel nie,” verseker Nanzi haar. “Dis nie sosiaal nie. Dis werk.”

“Werk? Ag, hoe boring!”

“My lewe is nie jou lewe nie, Wanda. En daar is nie ’n man betrokke by elke beweging wat ek maak nie.”

“O, my aarde! Gaan daar nie eens ’n man in sig wees nie?”

“Daar gaan ’n man wees. ’n Knorpot met swak maniere. ’n Boer op ’n plaas wat varke voer en koeie melk.” Sy het dit nou al so dikwels vir haarself gesê dat daar ’n duidelike beeld van Krisjan van der Merwe in haar kop gevorm het.

“’n Boer? Jig! Hulle sweet nat kolle onder die arms en is al kis gebrand deur die son. Hulle dra kakiekortbroeke en hiet en gebied hul vroue. Nee, ’n boer doen niks vir my nie.”

“Dit gaan nie oor jou nie, Wanda,” lag Nanzi. “Of oor wat die boer vir jou kan doen nie. Dit gaan oor my. Dit gaan oor ’n oorsese trippie, ’n sakereis, waarop ek en hierdie boer binnekort vertrek en waaraan ons moet beplan. Lankal moes begin beplan het.”

“’n Mens kan enigiets in ’n romantic rendezvous verander as jy wil. Hoe lyk hierdie boerseun van jou?”

“Ek het nie die vaagste benul nie, maar ek sal nie verbaas wees as jou beskrywing by hom pas nie. Hy klink omtrent so afgestomp soos die klippe van die Karoo. En ook so gevoelloos soos ’n klip.”

“Kry ’n mens dan klippe in die Karoo?”

“Ek weet nie. Seker. Die mense ontdek dan elke af en toe versteende geraamtes daar wat glo uit die oertyd kom.”

“Miskien het hy ’n sagte hart,” probeer Wanda troos. “Of baie geld.”

“Dit maak nie vir my saak nie, Wanda. Daar is niks romanties aan ons ontmoeting nie. Die man het heel moontlik ’n vrou en ’n trossie kinders. Hy klink na die chauvinistiese tipe wat nie self sy sokkies sal was nie en elke dag ’n bord gekookte boerekos wil hê.”

“Met ander woorde na die tipe wat ’n vrou nodig het om sy behoeftes te vervul?”

“Juis. En hoekom sal hy nou alleen en droëbek daar op sy plasie sit en vergaan?” Nanzi dink ’n oomblik na. “Ek weet net nie waar dwaal die gesin, as hulle bestaan, bedags rond nie. Dalk is hulle almal doof, want jy kry nie iemand wat die telefoon antwoord nie.”

Toe stel Wanda nie meer belang nie. “’n Man moet gebruikerswaarde vir my hê, of anders op ’n afstand bly.”

“Ja, jong, jy het genoeg mans op sleeptou om uit te kies as dit die dag nodig raak.”

“Ek maak my net nie moeg met iemand wat nie kwalifiseer nie.”

“Ek weet nie hoe kry jy dit reg nie,” erken Nanzi.

“Maklik, Nanzi. Ek laat nooit ’n man oor my loop nie en raak nie emosioneel betrokke nie.”

Nanzi sluk. Sy skaam haar dood as Wanda moet weet hoe Louis oor haar geloop het. Gelukkig dat sy maar onlangs eers hier ingetrek het. Die volle verhaal van hoe Louis met haar gemors het, sal in die wêreldwyse Wanda se oë heeltemal ondenkbaar wees.

“Mans haat dit as ’n mens te klouerig raak,” verkondig Wanda nog van haar wyshede. “Die goed kies die hasepad die oomblik dat jy begin huisie-huisie speel.”

Dis wat sy wou doen, besef Nanzi. Sy wóú huisie-huisie speel. Sy wou ’n toekoms saam met Louis bou, ’n huisie, twee komma drie kindertjies om ’n ronde tafel, speelgoed oor die vloer gestrooi, ’n gesamentlike bankrekening, inkomstebelastingvorms, stukkende fietse in die motorhuis en een keer per jaar Kersfees by Pa en Ma.

Aan die begin was dit pret en het Louis saamgespeel, maar toe kamma-kamma begin regtig raak, was snaaks nie meer vir hom snaaks nie. Toe sy oor kerke begin praat, oor predikante en preekstoele en beloftes vir die res van ’n mens se lewe, toe sy na satyn en kant en ringe en dinge begin kyk, wou hy nie meer saamspeel nie.

Wat kon sy wat Nanzi is hom nou ook bied? Dis goed en wel om ’n mooi gesiggie te wees en om ’n lyf te hê wat mans laat omdraai, maar wanneer dit by status en rykdom kom, tel sy nie onder die room van die oes nie. En dit, vermoed Nanzi, is waarna Louis op soek was toe hy ernstig aan vrou vat begin dink – die regte vrou, een met blou bloed. Of met invloed. Met ’n naam van faam. Iemand wat al in die koerante was en van wie daar geweet word. Vir die regte redes, natuurlik.

“Daar was ’n tyd toe ek beroemd was,” het sy hom eenkeer herinner. “Toe mense om my saamgedrom het wanneer ek op straat verskyn het en toe my gesig feitlik weekliks in een of ander tydskrif of koerant gepryk het.”

Hy’t haar uitgelag, sy onthou. Haar claim to fame, wat niemand meer onthou nie, was net nie meer genoeg om hom te beïndruk nie.

Ek was ’n dwaas, weet Nanzi nou. Ek met my outydse drome waarin Louis nie belang gestel het nie. Ek het hom die skrik op die lyf gejaag met my jongmeisiedrome, hom van my af weggedryf sodat ek vanaand sit waar ek sit. Met feitlik ’n leë woonstel, buiten die bokse langs die muur, wat ek net nie sover kan kom om weer uit te pak nie, ’n stukkende hart, my trots in my skoene en iemand anders se kat wat die naweek alleen hier gaan agterbly.

Pateties!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s