Rykie beantwoord tien vrae

1.   Hoekom skryf jy juis liefdesverhale?
Romanses is eintlik stories oor menseverhoudings en dis iets wat die meeste van ons interesseer. En ’n intieme verhouding is die een verhouding wat ons geweldig baie plesier en net soveel pyn kan verskaf. Die Beatles het ’n liedjie wat sê: Yesterday love was such an easy game to play. En dis waar, want vandag is liefde nie meer so ’n maklike speletjie nie, omdat veral die rol van die vrou in die wêreld so verander het. As romanseskrywer verken ek die ietwat verraderlike, maar baie opwindende terrein van moderne liefdesverhoudings op ’n ligte manier.
2.   Waar kry jy jou idees vandaan?
Dis die vraag wat mense die meeste vir my vra. Ek sê altyd ek het sulke radaroortjies wat ek so ver as moontlik uitsteek as ek gesprekke met ander mense het. Ek stel baie belang in mense en luister graag na hulle stories en soms laat iemand net iets val en ek voel die roering van inspirasie. Baie keer bring iets wat ek lees ’n ingewing. As ’n mens skryf, leer jy mettertyd om met aandag te leef en dan kan kom die idees as’t ware vanself na jou toe.

3.  Op een van die uitgewers se webwerf staan daar dat jy ’n gawe met dialoog het. Is dit waar?
Wat dit duidelik wys, is dat ek iemand is wat daarvan hou om te praat! (Lag). Ek gebruik wel graag baie dialoog in ’n storie, want dis ’n ekonomiese manier om ’n hele paar vlieë met een klap by te kom. Soos om te wys wat die verhouding tussen mense is, hoe hulle persoonlikhede is en om die storie se pas lekker vinnig te maak.

4.   Jy is bekend vir die deeglike navorsing wat jy doen. Is dit regtig nodig om soveel moeite vir romanses te doen?
Ek doen graag ordentlik navorsing omdat dit my help om telkens ’n vars kyk op ’n nuwe storie te kry. So gee ’n ander beroepsveld my as skrywer toegang tot nuwe beelde en tot interessante bronne van konflik, iets wat jy bitter nodig het vir ’n storie. Met my navorsing hoop ek om ook aan my lesers die boodskap te gee dat ek hulle intelligensie respekteer en nie sommer enige twak aan hulle wil opdis nie.

5.   Wanneer skryf jy?
My kinders is nou in die fase van baie buitemuurse aktiwiteite in die middae en in die oggend tuisskool ek hulle nog self. My skryftyd is dus gesteelde tyd en ek het nie elke dag ewe veel tyd vir skryf nie. Wat ek wel probeer doen as ek enigsins kan, is om elke dag te skryf, al is dit net vyfhonderd woorde.

6.   Waar skryf jy?
Ons het so pas ’n oostestoepie by ons slaapkamer laat toebou. Nou in die winter skyn die son heerlik daarin. Van kleinsaf kon ek nooit by ’n tafel sit en werk nie. Ek sit dus kruisbeen op ’n leunstoel met my babarekenaartjie op my skoot in die sonnetjie en werk. ’n Heerlikheid wat ek onlangs ontdek het, is dat ek inderdaad in staat is om in ’n restaurant te kan skryf. As ek dus vir my kinders moet wag as hulle besig is met een of ander aktiwiteit, soek ek ’n stillerige koffieplek op, val weg en skryf.

7.   Hoe gaan jy te werk as jy ’n boek begin?
Ek is een van daardie dons-maar-in skrywers. Ek het gewoonlik ’n taamlike idee wie my karakters is, maar ek weet nooit presies vooraf waarheen hulle met my op pad is nie. Soms neem hulle afdraaipaadjies wat my net soveel verbaas as vir hulle. Dan volg ek hulle maar as hulle iets vreemds doen. Dit lei meestal tot ’n beter storie, al beteken dit baie herskrywery.

8.   Jy het nou al ’n hele paar boeke op jou kerfstok.Raak ’n mens ooit daaraan gewoond dat ’n boek van jou gepubliseer word?

Nooit! Daardie vreugde as jy by die posbus kom en daar is die strokie wat sê daar wag ’n pakkie vir jou en jy weet dis min of meer tyd dat jou ses outeurseksemplare moet opdaag,bly heerlik. En dit gaan nooit weg nie.

9.   Daar is baie mense wat graag wil skryf. Wat sou jy sê is die eienskappe waaroor ’n voornemende skrywer moet beskik?
Die lus om regtig te wil skryf, is sekerlik die belangrikste. Verder het ’n mens geen spesifieke kwalifikasies nodig nie. Jy hoef nie eens te kan spel nie. (Het jy al gesien hoe vrot het Jane Austen gespelle?). Maar jy moet ’n gevoeligheid vir woorde hê. As skrywer is woorde vir jou wat verf en kwas vir ’n skilder is. Die sit-op-stert-en-skryf-vermoë is ook belangrik. Onthou: ’n skrywer is iemand wat skryf. Dis nie iemand wat net daaroor bly praat nie. Net nog ’n ding: ’n skrywer is ook iemand wat lees. Ek het nog nooit ’n suksesvolle skrywer teëgekom wat nie ook ’n boekwurm is nie. Jou moet regtig van stories hou as jy self wil stories skep.

10.   Wat is daar vir jou in die pyplyn?
Ek hou nie daarvan om oor ’n brood wat nog in die oond is te praat nie. ’n Mens babbel maklik al die wonder uit so ’n storie uit. Maar as iemand wat elke dag probeer skryf, het ek altyd ’n nuwe boek êrens aan die broei.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s