Proestukkie: Chanette Paul: Fleur

Fleur speel in 1938 af toe wynoorskotte die wynboere sleg geknou het.

Romuli se opstal is vars en wit, die gewels blinkskoon in die laatmiddaglig. Die ruitjiesvensters glimmer en in die eikebome fluister ’n ligte bries.

Pieter-Jan help haar uit die kapkar en sy is net op pad met die trappies na die voordeur toe Annabella uitkom.

“Fleur! Hoe bly is ek nie jy het toe tog gekom nie.” Haar lippe is sag teen Fleur se wang. “Maar kom binne. Jy sal die meeste mense ken, maar ek wil jou graag voorstel aan Christiaan. Jy onthou hom seker nie meer nie?” Annabella haak by haar in en stuur haar deur die groot dubbeldeur wat verwelkomend oopstaan.

“Vaagweg,” jok Fleur en haar hart klop ineens onverklaarbaar in haar keel.

In die ruim voorkamer is daar al ’n paar mense wat in groepies rondstaan en met ’n glasie sjerrie in die hand gesels en lag, maar niemand wat die vertrek binnestap, kan anders as om heel eerste die blonde reus raak te sien waar hy by Stefan staan nie, sy neus in ’n glas wyn. Sy sien hoe hy proe, die wyn rondrol in sy mond en dan knik en glimlag. Die volgende oomblik draai sy kop in hul rigting en asof hy haar oë op hom gevoel het, sluit sy saffierblou blik met hare. Fleur kom skaars agter sy het vasgesteek. Dis asof die aarde ’n stonde gaan stilstaan het, asof daar ’n elektriese stroom oor die vertrek heen skiet met haar en Christiaan as die begin en die eindpunt daarvan. Christiaan se glimlag het verstar, sy hand met die wynglas bly doodstil in die lug hang.

“Fleur?” Annabella se sagte stem ruk Fleur uit haar eie verstarring en sy hoor ineens weer die gezoem van gesprekke om haar. Mense beweeg weer en die grammofoon speel weer Vivaldi se Lente uit die Vier seisoene.

“Ekskuus,” mompel Fleur, laat sak haar oë en laat toe dat Annabella haar nader lei. Eers toe hulle by die wyntafel kom, kyk Fleur weer op, glimlag bewerig vir Stefan. “Dag, oom Stefan,” groet sy in ’n dwaal.

“Dag, Fleurtjie. Ek is bly jy kon kom,” glimlag Stefan, buk en soen haar ook op die wang. Hy beduie met sy violishand na Christiaan. “Ontmoet my swaer, Christiaan Davel, pas terug uit Bordeaux.”

Fleur staal haar en draai na die blonde reus, kyk op en op en op.

“Christiaan, dis nou Fleur Malherbe van Le Fleur hier langsaan,” hoor sy Stefan se stem terwyl sy verdrink in die verskriklike blou van Christiaan se oë.

“Fleur.” Sy sien hoe sy mooi mond om haar naam vou. Besef dan hy het sy hand na haar uitgesteek, lig haar eie in ’n dwaal, voel hoe sy vingers warm en droog oor hare sluit. “Aangename kennis, Fleur Malherbe van Le Fleur.” Sy stem is diep en effens spottend.

Fleur sluk. “Aangenaam,” prewel sy hees. Die voorkamer duisel om haar. Binne-in haar voel sy soos ’n kompas wat alle kalibrering verloor, voel hoe die naald wat Noord soek, verward rondskommel. Haar hand is steeds verdwerg in syne, besef sy en trek dit haastig uit sy greep. “Welkom terug in Suid-Afrika,” kry sy dit steeds heserig uit.

“Dankie.” Hy knik sonder om oogkontak met haar te verloor.

“Christiaan, kry tog vir Fleur ’n glasie sjerrie, asseblief? Stefan, ek sien daar het ’n motor aangekom en nog een is op pad in die laning, kom help my met die verwelkoming van die gaste, asseblief?” Annabella se stem kom van ver af, maar registreer darem by Fleur. “Verskoon tog, Fleur?”

“Droog, mediumdroog, of soet?”

Fleur kyk Christiaan verward aan.

“Die sjerrie. Droog, mediumdroog, of soet?” herhaal hy en ’n klein kepie in sy wang laat haar vermoed hy lag haar uit.

Haar wange raak warm. “Droog, asseblief?”

Sy wenkbroue wip verras op en uiteindelik kry sy dit reg om weg te kyk.

“Droog sal dit wees,” hoor sy hom sê. Sy gaan staan voor die venster en kyk uit na die grasperk met die vrolike beddings rondom. Onder ’n prieel, gestut deur witgekalkte pilare, staan ’n lang houttafel en twaalf of meer stoele. Fleur kan haar net indink hoe lekker ’n groot familie daar sal kan sit en kuier. Teen die muur aan die ander kant van die prieel prut water uit die bek van ’n leeu en plons in ’n langwerpige lelieoortrekte visvywer.

One thought on “Proestukkie: Chanette Paul: Fleur

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s